
Indien burgerlike arrestasies nie reg hanteer word nie, en daar buite die wet opgetree word, staan boere die kans om krimineel vervolg te word. Hier is basiese riglyne soos uiteengesit deur die Vrystaat se regsafdeling van die Suid-Afrikaanse Polisiediens.
Volgens Artikel 42 van Strafproseswet, no 51 van 1977, mag enige privaat persoon 'n arrestasie sonder ’n lasbrief in die volgende gevalle uitvoer:
- ’n potensiële oortreder is besig, of poog om 'n oortreding uit te voer, of indien die burger met redelike sekerheid kan sê die persoon het 'n misdaad gepleeg volgens seksie 1 van die strafproses.
- 'n persoon 'n misdaad gepleeg het, wat ontsnap en gesoek word deur 'n gemagtigde persoon.
- Tydens ’n fisiese geveg.
Misdade wat deur Skedule 1 gedek word sluit verskeie vorme van misdade in, maar spesifiek in die geval van plaaseienaars, sluit dit roof, aanranding, wanneer ’n gevaarlike wond toegedien is, opsetlike saakbeskadiging, inbraak en betreding op eiendom met die bedoeling om 'n oortreding te pleeg, diefstal, en die ontvangs van gesteelde eiendom met die kennis dat dit gesteel is.
Volgens die riglyne is die oortredings in die meeste gevalle uitkenbaar, maar in die geval waar burgers onseker is of 'n oortreding met meer as ses maande tronkstraf strafbaar is sonder 'n boete(soos oortredings in Seksie 1 van Artikel 42 van die Strafproseswet), maan die SAPS om eerder die arrestasie aan die polisie oor te laat.
Tydens 'n ondersoek na die saak moet 'n burger met sekerheid die arrestasie kan verwerdig en moet die aksies van die persoon redelikwys verdag wees (reasonably suspicious).
Lees ook: Plaasveiligheid - wanneer mag jy skiet?
Vee- of oesdiefstal
Nog 'n wet wat voorsiening maak vir die burgerlike arrestasie sonder 'n lasbrief is die Wet op Veediefstal.
Wanneer 'n verdagte in besit van vee of oeste betrap word en die oortreder nie rekenskap kan gee vir die besit van die goedere nie, of daar bestaan sekerheid dat die goedere gesteel is, mag 'n burger 'n arrestasie in die geval uitvoer.
Volgens die Wet is 'n verdagte persoon ook skuldig indien hulle in 'n afgesperde gebied soos 'n kraal, skuur of stal gevind word met die bedoeling om te steel. Die onus rus op hierdie persoon om bewyse te lewer wat die aanklagte van diefstal weerlê. Dit sluit egter persone uit wat van 'n oorgangspad op die eiendom gebruik maak.
Indien 'n privaat eiendomseienaar, 'n wettige huurder of persoon in beheer van eiendom 'n oortreder van enige aard op die eiendom vind tydens die oortredingsaksie, is die persoon egter gemagtig om die persoon in hegtenis te neem, al is dit nie 'n misdaad volgens Skedule 1 nie.
Lees ook: Plaasveiligheid - waak teen waarskuwingskoot
Die uitvoering van die arrestasie:
Die verdagte moet duidelik in kennis gestel word daarvan dat hy arresteer word en hy in bewaring sal bly tot oorhandiging aan die owerhede/SAPS.
Indien 'n oortreder nie homself aan die arrestasie onderwerp nie, mag die burger aan die oortreder raak, en indien nodig, krag gebruik om die persoon in hegtenis te neem. Indien die krag gebruik, die redelike mate van die oortreding oorskry, kan die arresteerder van aanranding aangekla word.
Visentering (deursoek van persoon)
Alhoewel die artikel nie direkte mag vir visentering gee nie, mag 'n burger wel beslag lê op verdagte voorwerp in die verdagte se besit, wat dus impliseer die burger mag 'n persoon deursoek.
Volgens Artikel 23 van die Wet, mag 'n burger enige voorwerp, soos gevind in Artikel 20, van 'n persoon afneem en aan die polisie oorhandig. Dit sluit gereedskap wat vir inbraak of as wapen gebruik word. Dit sluit ook voorwerpe in wat bedoel is vir die uitvoering van 'n oortreding, soos vir huisbraaktoerusting, asook wapens.
'n Persoon mag egter nie deursoek word sonder dat 'n persoon nie in hegtenis geneem is nie.
Verdagtes moet so gou moontlik aan die polisie oorgelewer word, en die burger mag geensins die persoon aanhou of ondervra nie.
Lees ook: Plaasveiligheid - Leer só selfverdediging
Die gebruik van geweld
Indien daar wel geweld gebruik is tydens die arrestasie, word die arresteerder volgens die Strafproseswet, Artikel 49(2) hanteer. Wanneer 'n verdagte 'n arrestasie teengaan, vlug of ontsnap het na dit duidelik gemaak is hy word arresteer, en geweld die enigste uitweg is om die arrestasie uit te voer, mag die arresteerder wel van geweld wat redelikwys regverdig word, gebruik maak.
Daar moet wel daarop gelet word dat die krag wat gebruik word proporsioneel wees aan die omstandighede van die misdaad. Volgens Artikel 49(2) van die Strafproseswet, is daar slegs twee gevalle waar daar van dodelike geweld gebruik mag word.
Die eerste geval is wanneer 'n verdagte die bedreiging van ernstige geweld vir die arresteerder of 'n ander persoon inhou, of tweedens wanneer die verdagte op redelike gronde van 'n misdaad waar ernstige liggaamlike leed aangedoen is verdink word of gedreig het om die leed uit te voer.