Sowat 41 880 hektaar weiding is die afgelope tyd in die distrikte Gordonia en Postmasburg in veldbrande verwoes.
Volgens mnr. Nico de Wet van die plaas Swartpan, Askham, het brande in Botswana, duskant Askham, twee weke lank gewoed. Daar word beraam dat honderdduisende hektare daar afgebrand het.
Plantmateriaal en droë toestande
De Wet sê die hoë reënval van die vorige seisoen het ’n groot hoeveelheid plantmateriaal tot gevolg gehad. Dit is opgevolg deur ’n droë tyd wat toestande ideaal vir veldbrande maak. Donderweer sonder enige noemenswaardige reënval het voorgekom en die brande laat ontstaan.
Sommige mense meen dié situasie is ongewoon en kan aan klimaatsverandering toegeskryf word. Agri Noord-Kaap doen nou ’n opname oor die omvang van die skade. Volgens die boereverenigings Oranje en Olifantshoek het brande op 27 plase voorgekom.
Sowat 41 880 hektaar het afgebrand en diere van meer as R1,2 miljoen het doodgebrand of moes van kant gemaak word. Weidingsverlies word konserwatief op sowat R125 per hektaar aan netto boerdery-inkomste bereken.
Geen beweiding vir 'n jaar
Dit beteken ’n bykomende verlies van R5,2 miljoen oor die volgende jaar. Boonop is die westelike Kalahari kwesbaar vir winderosie. Geen beweiding sal dus vir die eerste jaar ná ’n brand benut kan word nie.
Groot skade is ook aan heinings aangerig. Houtpale en sparre het uitgebrand en drade het hul trekspanning en galvanisering verloor. ’n Gewone heining se materiaal kos vandag R7 000 per km. Arbeid om die ou materiaal op te breek en met nuwe materiaal oor te span, kan sowat R3 500 per km bedra.
’n Beraamde 245 km se heining is beskadig, waarvan die herstelkoste R2,6 miljoen kan beloop. Volgens De Wet is toestande steeds gunstig vir verdere brande. “Wanneer daar onweer in die lug is, hou almal asem op, want miljoene hektare weiding kan nog afbrand.”
21 Oktober 2011