’n Veldtog genaamd “Shut up Eddie von Maltitz” is deur ’n menseregte-aksiegroep in Welkom geloods. Luidens ’n berig in Volksblad is die groep Hurag vasbeslote om sy nuwe veldtog suksesvol uit te voer. Von Maltitz boer by Ficksburg en is bekend vir die omstrede uitsprake wat hy in die openbaar maak.
Die groep oorweeg dit om Von Maltitz na die gelykheidshof toe te sleep. Mnr. David Stoffel, uitvoerende voorsitter van Hurag, sê hulle wil dié hof vra om teen Vol Maltitz se “haatspraak en rassistiese en diskriminerende uitsprake” op te tree.
Stoffel sê Von Maltitz moet sy trots sluk, om verskoning vra en stilbly. “Hy hou daarvan om op swart mense te skreeu en sê vir die straatverkopers die vrugte en groente wat hulle verkoop, kom van wit boere. Hulle moet hul eie mense se produkte verkoop.”
Von Maltitz lag glo egter oor die veldtog en sê hy baklei onder meer teen korrupsie, slegte paaie en vuil drinkwater. Hy het aan die koerant gesê: “Hulle gaan my nie stop nie. Hulle sal my nooit stilmaak nie. As George Bush (gewese Amerikaanse president) my nie kon stilmaak nie, sal hulle ook nie. Ek baklei vir dieselfde doel as hulle. Die klein snotneuse is kwaad vir my plakkate.”
Bron - Volksblad
3 Februarie 2012