
Sy sê as deel van die toepassing van die omvattende landelike ontwikkelingsplan, asook die meesterplan vir landbou en landbouverwerking is die herstel van paaie in landelike gebiede van deurslaggewende belang om landbouprodukte by hawens en markte te kry. Volgens haar is die padinfrastruktuur van nasionale, provinsiale, munisipale en plaaspaaie ’n voorkeursaak om ekonomiese volhoubaarheid te verseker deur landbouprodukte veilig en vinnig te kan vervoer.
Sy vra Agri SA om die name, nommers en koördinate van plattelandse paaie te verskaf wat aanbeveel word vir herstelwerk, rehabilitasie of nuwe grond-deklae. “Die data sal ons help om ’n profiel van die status quo van paaie per distrik en munisipaliteit saam te stel sodat alle belanghebbendes byeengebring kan word om die probleme te takel.”
Volgens Didiza sal die belanghebbendes nie net nasionale en provinsiale departemente insluit nie, maar ook plaaslike regering, die georganiseerde landbou en die private sektor.
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, verwelkom Didiza se navraag en sê Agri SA se affiliasies is reeds besig met ’n opname. Hulle sal ’n finale verslag spoedig deurstuur.
Hy het vroeër by die aankondiging van Agri SA se nasionale veldtog gesê paaie is van deurslaggewende belang vir voedselsekerheid. “Dit is die ekonomiese are wat nodig is om goedere van plase na markte en van markte tot by verbruikers te bring. Daarby is dit van deurslaggewende belang vir die ontwikkeling van landelike gemeenskappe, om beleggings na landelike gebiede te bring, werk te skep en armoede te verlig.”
Altesaam 311 landbou-ondernemings het aan Agri SA se paaie-ondersoek deelgeneem. Hulle het aangedui dat hulle gemiddeld sowat R200 000 per deelnemer skade gely het weens swak paaie en daarby het elkeen ’n gemiddelde verlies van 16% in omset in die boekjaar gehad weens probleme met die vervoer van landbouprodukte op die swak paaie.