Ventersdorp in Noordwes se waterbesoedeling is nie enig in sy soort in die provinsie nie, sê mnr. Boeta du Toit, hoofbestuurder van Agri Noordwes.
“Enkele munisipaliteite se rioolstelsels is in ’n goeie toestand, maar feitlik elke dorp in dié provinsie het ’n probleem,” het Du Toit in reaksie op ’n DApersverklaring oor Ventersdorp se waterprobleme gesê.
Geen skoon water
Me. Marti Wenger, die DA se skaduminister van water en omgewingsake, het die informele nedersetting Tshing buite Ventersdorp besoek.
“Altesame 18 huishoudings in die gebied het geen toegang tot skoon water nie en 655 huishoudings (3 275 mense) het nie toegang tot sanitasie nie.”
Verlede jaar se Groendruppel-verslag het Ventersdorp in die “kritieke risiko”-kategorie geplaas. Nege ander dorpe in Noordwes val ook in dié kategorie.
Wenger is bekommerd omdat die betrokke owerhede glo nie vreeslik erg het aan die toestand van watergehalte op die dorp nie. “Dít wat ons gesien het, dui op ’n groeiende neiging van die miskenning van basiese behoeftes van gewone Suid-Afrikaners.
Basiese regte
“Niks word gedoen om dié mense se reg tot skoon drinkwater te bevorder nie. Dit kan nie só aangaan nie.” Mnr. André Strydom, voorsitter van Agri Ventersdorp, sê alle besproeiingsboere in die gebied gaan darem nie gebuk onder swak water nie.
“Nader aan Ventersdorp is die water dalk slegter, maar boere wat byvoorbeeld ’n bietjie oos van die dorp boer, het darem nog suiwer besproeiingswater. Ons kan tans nie kla nie.”
Strydom sê ’n boer is gelukkig indien sy besproeiingswater suiwer is. “In Suid-Afrika kan een dam besoedel wees, terwyl ’n ander skoon is. Plakkers kan egter enige dag die gebied om die ‘skoon’ dam beset en dan kan watergehalte ingeperk word.”
13 April 2012