
Die landskap vir finansiering in die landbou het die afgelope drie dekades aansienlik verander - veral wat die omvang van lenings en ’n fokus-verandering by van die vernaamste finansierders behels, sê mnr. Zhann Meyer, hoof van landboukommoditeite by Nedbank.
Meyer sê in ’n meningstuk in die middel-1980’s was die totale primêre landbouskuld sowat R13 miljard. Van die totale skuld het 22% by die Land Bank gelê, kommersiële banke het 26% daarvan gedra en koöperasies sowat 30%.
“Teen die einde van 2016 het hierdie finansieringsprentjie aansienlik verander met boerderyskuld wat al op sowat R145 miljard gestaan het. Die Land Bank se aandeel van die skuld het rofweg dieselfde gebly op 28%, maar die verhouding tussen banke en landboubesighede verskil nou dramaties. Banke dra nou rofweg 60% by tot die landbou-finansiering en landboubesighede se aandeel het tot net sowat 7% gekrimp.”
Hy skryf dit toe aan veranderinge in die eienaarskap van die ou koöperasies en ook hulle benadering tot lenings wat verander het. Waar die koöperasies in die verlede kollektief deur boere besit is en lenings as ’n natuurlike uitbreiding van dienste gesien is, word die meerderheid nou deur institusionele beleggers besit wat ’n ander benadering het.
“Die Land Bank het sy deurslaggewende rol behou as ’n finansierder van boere, maar deesdae is dit in ’n mindere mate gevestigde kommersiële boere en in ’n groter mate ’n transformasie-rol met die finansiering van nuwe toetreders. Die gaping wat deur koöperasies en die Land Bank gelaat is, is deur die kommersiële banke gevul.”
Waarde van grond dra gewig
Meyer wys daarop dat die groter betrokkenheid van kommersiële instellings ook gerugsteun is deur die groei in die waarde van landbougrond. Die waarde van Suid-Afrika se landbou-bates word op R420 miljard geraam, waarvan grond en verbeteringe meer as helfte van die waarde is.
“Hierdie fisiese bates maak die betrokkenheid by die landbou meer haalbaar en verskaf ook die kollateraal sodat banke finansiële oplossings aan boere kan bied. Hierdie betrokkenheid van die private sektor strek ook veel wyer as net die verskaffing van krediet. As kommersiële instellings het banke ’n gevestigde belang om te verseker boerderye is suksesvol. Daarom is die fokus deesdae baie meer op ’n vennootskapsbenadering.”
Hy sê behalwe vir die finansiële steun, bied banke ook ander vorme van kundigheid, hulp en raad aan boere. Verlede jaar se droogte is ’n voorbeeld. “Terwyl banke boere gehelp het met finansiering van meer volhoubare waterinfratruktuur soos boorgate en damme te midde van die droogte, help hulle terselftertyd om die boerderye op die langer termyn volhoubaar te maak in die lig van waterskaarste.”
Hy sê die vennootskapsbenadering strek ook wyer na die volle waardeketting omdat boerdery net 2,5% tot die BBP bydra. Sekondêre bedrywe rondom landbou stoot die ekonomiese waarde op na meer as 25% van die BBP. “Hierdie aansienlike toename in die vlakke van betrokkenheid deur finasiële instelling by die landbou is van die grootste belang. Deur finansiëel en intellektueel in die landbou en die sekondêre bedrywe te belê, help banke nie net boere nie. Hulle help met werkskepping, voedselsekerheid en die ekonomiese groei wat die land dringend nodig het.”