
Die sleutel om Suid-Afrika van ’n netto vleisinvoerder tot ’n netto vleisuitvoerder om te skakel, is in die doeltreffende beskerming van die nasionale beeskudde se gesondheid en die verbetering van die algehele kalfpersentasie.
Dít was die algemene konsensus van sprekers op Nerpo (die organisasie vir opkomende rooivleisprodusente) se 17de jaarvergadering en konferensie in Pretoria.
Volgens dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaapse tak van die Rooivleisprodusente-organisasie, is die doeltreffende beskerming van die nasionale kudde se gesondheidstatus ’n groot kwelpunt in die bedryf. “Ons moet die nasionale kudde se gesondheidstatus beskerm – dit is uiters belangrik,” het hy aan konferensiegangers gesê. “Dit is ’n saak wat almal van ons raak.”
Dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die Nasionale Dieregesondheidsforum, sê die handhawing van die nasionale kudde se gesondheidstatus is ’n voorvereiste vir marktoegang wat vorentoe ’n gesamentlike benadering van almal sal vereis – van boere en die beesvleisbedryf tot die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Vervoort sê die swak voortplantingsyfer in die nasionale kudde (wat uit kommunale en kommersiële kuddes bestaan) is ’n groot struikelblok in Suid-Afrika se vermoë om die groter beesvleis-volumes te produseer wat nodig is vir uitvoer. “Die kalfpersentasies van die nasionale kudde is rondom 30%. As ons dit kan verhoog tot 60% kan ons ’n netto uitvoerder van beesvleis word,” het hy gesê. “Hoekom is ons ’n netto invoerder van beesvleis in dié land? ’n Mens staan verstom – dit bekommer my regtig.”
Volgens Prinsloo is die verbetering van voortplantingsyfers in die nasionale kudde uiteindelik ’n verantwoordelikheid wat op die skouers van Suid-Afrikaanse beesboere rus.
“Daar is sekere dinge, soos regeringsbeleid, wat ons kan beïnvloed, maar nie kan beheer nie,” het hy aan kongresgangers gesê. “Maar voortplanting in die nasionale kudde ís onder ons beheer. Daarom moet ons ons dinge agtermekaar kry.