Vrystaat Landbou (VL) en boere in dié provinsie is baie ontsteld oor die voorgestelde wysigings aan die wetgewing rondom verblyfreg.
‘n Openbare sitting is Saterdag (12 Februarie) in Bloemfontein oor dié wysigings gehou. Luidens ‘n berig op Nuus24.com bevat dié dokument verskeie ingrypende voorstelle.
Mnr. Henk Vermeulen, hoofbestuurder van VL, sê twee van dié radikale voorstelle is die voorgestelde wysiging dat plaaswerkers kommersieel op die plaaseienaar se plaas mag boer en dat plaaswerkers beeste sonder die plaaseienaar se toestemming mag aanhou.
Lees ook:
“Die voorstelle gee soveel regte aan die plaaswerker en die plaasbewoners en hul familielede dat boere later geen seggenskap oor hul eie plase sal hê nie. VL is van mening die voorstelle is heeltemal ongrondwetlik,” aldus Vermeulen.
Geen kennisgewings
Volgens Vermeulen is geen kennisgewings uitgestuur om die publiek in kennis te stel oor die openbare sittings nie. “Dit laat ’n mens wonder of die Regering bang is dat verskeie mense by die openbare verhore gaan opdaag om beswaar teen die voorgestelde wetgewing te maak.”
Vermeulen sê hulle gaan alles in die stryd werp om dié wysigings afgekeur te probeer kry. Die volledige wysigings is op die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming se webtuiste, www.ruraldevelopment.gov.za beskikbaar.
Enige persone wat oor die wysigings kommentaar wil lewer, het tot tot Donderdag, 24 Februarie 2011, tyd om dit te doen. Stuur die kommentaar aan LandTenureSecurityBill@ruraldevelopment.gov.za.
14 Februarie 2011