
Die hoeveelheid hoendervleis wat uit die Europese Unie (EU) ingevoer word, het ondanks ‘n voëlgriepverbod en voorlopige teenstortingsmaatreëls nie in Desember gedaal nie.
'n Goeie verbruikersvraag het wél Suid-Afrikaanse produsente se feestyd opgekikker.
Mnr. Kevin Lovell, hoof uitvoerende beampte van die SA Pluimveevereniging (SAPV), sê die totale invoer van hoenderstukke met die been in, was in Desember sowat 11 100 ton, waarvan 5 000 ton uit Nederland en Brittanje gekom het.
Dié snitte verteenwoordig sowat 40% van alle invoer en maak volgens hom Suid-Afrikaanse produsente die seerste. Lovell sê die syfers vir totale hoender- en pluimvee-invoer toon dieselfde neigings as hoenderstukke met die been in.
Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye het vroeg in November 2014 ‘n verbod op ingevoerde hoender uit dié twee lande en Duitsland geplaas nadat voëlgriep daar aangemeld is.
Lovell sê die SAPV het by die departement navraag gedoen oor die invoer in Desember, maar verwag dat dit waarskynlik hoender is wat die land wettig binnegekom het omdat dit voor die datum van die verbod reeds geproduseer was.
Volgens die SAPV se syfers is daar van Januarie tot Desember verlede jaar in totaal 157 118 ton hoenderstukke met die been in ingevoer. Dit is meer as die vorige jaar se 144 773 ton, ondanks hoër invoertariewe wat sedert 30 September 2013 geld.