
Didiza besoek vandeesweek provinsies wat deur bek-en-klouseer geraak word, met Noordwes die volgende op haar lys.
Die samesprekings met provinsiale leiers en departemente van landbou en landelike ontwikkeling konsentreer op verduidelikings van die 21 dae lange verbod op die vervoer van beeste, sê mnr. Reggie Ngcobo, woordvoerder van die nasionale departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling. Hy beklemtoon dat die verbod op ’n weeklikse grondslag hersien sal word. “Die minister voel dat hierdie vergaderings belangrik is vir die samewerking tussen die nasionale, provinsiale en munisipale regering om die verspreiding van bek-en-klouseer te beveg.”
Volgens dr. Takisi Masiteng, hoof van die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling, is daar op die oomblik 22 uitbrekings van bek-en-klouseer in die Vrystaat, wat in die distrikte Viljoenskroon, Marquard en later tussen Lindley en Bethlehem aangemeld is. Masiteng het Maandagaand aan die SAUK gesê daar is drie nuwe gevalle in Marquard aangemeld wat die totaal op 15 in dié distrik te staan bring. Ses gevalle is vroeër in die distrik Viljoenskroon aangemeld en een is op 5 Augustus tussen Bethlehem en Lindley aangemeld.
Die plase waar gevalle van die siekte geïdentifiseer is, is onder kwarantyn geplaas en die diere is ingeënt. Daar is 55 628 diere op vyf plekke in die provinsie ingeënt en die inentings gaan voort, insluitend op plekke waar nuwe uitbrekings aangemeld word, volgens Masiteng.
Groot kommer oor Lesothogrens
Hy sê die provinsie is baie bekommerd oor die nabyheid van die Vrystaatse uitbrekings aan Lesotho en die moontlikheid dat die siekte van die buurstaat terug na Suid-Afrika kan versprei. “Ons probeer die verbod op vervoer in die gebiede baie streng handhaaf en het die hulp van die Suid-Afrikaanse Polisiediens ingeroep om padblokkades te hou.”
Hulp is ook uit die Nood-Kaap ingeroep met 12 veeartsenykundige tegnici van dié provinsie wat reeds in die Vrystaat werk om die siekte te help bestry. Daar word ook nou met ander Vrystaatse departemente soos die departement van omgewingsake, toerisme en kleinsake-ontwikkeling saamgewerk om te verseker dat die provinsie se wild nie nou heen en weer vervoer word nie. Die siekte is baie aansteeklik vir alle diere met gesplete hoewe.
“Bloedmonsters is op 92 liggings in die Vrystaat geneem om die omvang van die uitbreking vas te stel en 73 van hierdie plekke het negatief getoets.”
Hy sê die situasie in die Vrystaat het stabiel gebly tot einde Junie, maar in Julie en Augustus was daar ’n skielike toename in die geïnfekteerde kommersiële plase in die plaaslike munisipaliteite van Moqhaka (wat Viljoenskroon insluit), Setsoto (wat Marquard insluit) en Nketoana (wat Lindley insluit).
Die nuutste opflikkering kan volgens Ngcobo verbind word met die vervoer van beeste tussen voerkrale en die plase waar diere vir hierdie voerkrale afgerond word. “Die aanvanklike herverskyning van die siekte is waarskynlik te wyte aan verskuiwings van ’n geaffekteerde voerkraal in Noordwes na ’n ander voerkraal van dieselfde groep in die Vrystaat. Daarna is ’n aantal direkte bure geaffekteer of plase van waar die diere na en van die voerkrale verskuif is.”
Volgens Didiza was daar goeie samewerking van die gemeenskap en die private sektor om beeldmateriaal en toegang te verskaf wat help met die monitering van diere wat verskuif word.
Die Vrystaatse premier vergader Dinsdag met alle lede van haar uitvoerende raad en burgemeesters om bewustheid oor die probleem te skep. “Die siekte is ernstig en ons moet vinnig beweeg en ons gemeenskappe vinnig inlig oor die implikasies van die siekte,” sê Ntombela.