
Die druk waaronder verbruikers is, het klaarblyklik verkope van suiwelprodukte geknou. Volgens syfers van die maatskappy Nielsen is 3,3% minder vars melk en 2,1% minder langlewemelk in die 12 maande tot Maart vanjaar verkoop.
Volgens 'n verslag deur die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) word byna die helfte van onverwerkte melk wat geproduseer word, vir vars en langlewemelk gebruik. Sampro sê die Nielsen-syfers wys dat die verkope van ses van die nege suiwelprodukte wat gemonitor word, in die jaar tot Maart gedaal het.
Die enigste produkte waarvan verkope gestyg het, was maas (4%), voorafverpakte kaas (10,6%) en room (1,3%).
Duurder
Die pryse van al nege produkte het met meer as die inflasiekoers gestyg, wat volgens Sampro ongewoon is. Vars melk se rakprys het met 12,4% gestyg en langlewemelk s'n met 13,2%.
Oor 'n langer tydperk, naamlik die 24 maande tot Maart, het langlewemelk se prys wel die minste gestyg, met 6,2%, en botter s'n die meeste, met 38,2%. Vars melk se rakprys het in dié tyd met 15,3% gestyg.
Mnr. Alwyn Kraamwinkel, uitvoerende hoof van Sampro, sê die verkoopsyfers wys dat die swak ekonomiese toestande nou ook suiwelprodukte begin raak het, en nie net soos vroeër die meer gewilde produkte nie. Die syfers toon egter ook daar is vanaf Februarie afwaartse prysdruk op suiwelprodukte.
Wie wen?
Mnr. Gielie de Kock, melkboer van Witsand, sê as hy na sy eie melkprys kyk, het dit nie in dieselfde mate as winkelrakpryse gestyg nie. “Wie het dan die geld gemaak?” vra hy.
Om dit te kan vasstel, sal 'n mens inligting moet bekom oor die pryse waarteen verwerkers hul produkte aan winkels verkoop. Hy sê sulke verskille in prysbeweging is een van die kwessies wat na verwagting in Nedlac se ondersoek na die bedryf onder die loep sal kom. “Die melkprodusent moet meer veg vir sy aandeel in die verbruikersrand,” sê De Kock.
Mnr. Gerdie Landman, melkboer van Kookhuis, sê al drie partye – boer, verwerker en kleinhandel – behoort ewe veel te wen as pryse styg. Al drie is belangrike spelers in die kettting: “Dit is baie moeilik om sonder enige van die vennote in die waardeketting suiwelprodukte in groot volumes te bemark.
“Produsente wat verontreg voel, het al hul eie bemarking en verspreiding aangepak en was in die algemeen nie baie suksesvol daarmee nie.”
Ekwilibrium
Landman verwag melkproduksie sal soos gewoonlik van Augustus tot Desember styg. “Aanvraag bly egter ook groei en solank daar nie suiwelprodukte ingevoer word nie, sal die vraag en aanbod in ekwilibrium wees. Die kleinhandel reageer egter sterk op gerugte van tekorte en bestel dan vooruit, veral langlewemelk uit die buiteland,” sê Landman.
Hy vra of dit in produsente se beste belang is om produksiedata deurlopend bekend te maak. “Sodra supermarkte weet daar kom tekorte, voer hulle betyds melk in, pleks dat markkragte inskop en verwerkers meer vir die minder melk betaal sodat produsente aangemoedig word om dan die tekort met beter koeivoeding aan te vul.
“Koeie se produksie wissel tussen 16 liter en 30 liter. Bestuursbesluite kan bepaal op watter produksievlak dit ekonomies is om byvoeding te gee. Suid-Afrika se ligging ver van ander produksielande behoort produsente te verskans teen invoer van suiwelprodukte,” sê Landman.
Voedselinflasie
Die Landboubemarkingsraad sê in sy jongste Voedselprysmonitor dat voedselinflasie na verwagting die volgende drie maande relatief gedemp sal bly, hoofsaaklik weens die hoë basispryse van verlede jaar, maar ook danksy goeie produksietoestande en 'n sterker as verwagte rand.
“Die wisselkoers sal die komende maande 'n sleutelfaktor wees. Die huidige politieke onsekerheid skep beduidende afwaartse wisselkoersrisiko’s. Die droogte in die Wes-Kaap kan ook op lang termyn 'n invloed op voedselinflasie hê,” lui die verslag.