
Dit wil blyk die regering was nie wakker genoeg om ’n skuiwergat te sien waar multinasionale graanhandelaars miljoene se belastingvrystellings in hulle steek, instede daarvan dat besparings aan die Suid-Afrikaanse verbruiker oorgedra word.
Twee multinasionale graanhandelaars het na bewering tussen R400 miljoen en R450 miljoen se belastingvrystelling in hul sak gesteek deur middel van 'n beginsel waarvolgens die een wat eerste kom dié voorkeur sal geniet.
Dié belasting-kwytskelding is toegestaan in terme van die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EPA), wat die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sadu) in 2016 met die Europese Unie (EU) gesluit het. Onder dié ooreenkoms het Sadu ingestem dat die EU 300 000 ton koring tariefvry hierheen kon uitvoer. Hiervan is 248 500 ton aan Suid-Afrika toegeken.
Gevolge
Volgens Graan SA was hulle geken in die onderhandelings oor die kwota, maar nie oor die voorkeurbeginsel nie. Hierdie beginsel was blykbaar ’n toegewing wat die staat gemaak het en nie die gevolge daarvan ingesien het nie.
Die regering is deur die organisasie daarop gewys, maar hulle het niks daaraan gedoen nie. Mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, sê hoewel die transaksie binne die reëls was, was die uitkoms teen die gees van die ooreenkoms wat vir die verbruiker tot voordeel moes wees.
“Ons het vir maande gesukkel om die Staat om ’n tafel te kry oor die blaps en toe ons ten einde laas dit regkry, het ons die indruk gekry dat hulle die Europese Unie die skuld gee. Dis tragies!”
Die bedryf pleit nou dat die stelsel verander moet word. Mnr. Sidwell Medupe, woordvoerder van die Minister van Handel en Nywerheid, sê volgens die ooreenkoms moet alle Sadu-lede, behalwe Namibië, die voorkeurbeginsel toepas. Volgens die beginsel sal wie eerste die koring invoer, toegang tot die hoeveelheid beskikbaar op daardie tydstip hê.
Hy sê die bedryf het hulle ongelukkigheid rakende die stelsel aan die Departement van Handel en Nywerheid deurgegee en voorgestel dat daar na ’n ander stelsel gekyk moet word. Die voorstel is dat dit 'n stelsel moet wees waar die regering beheer oor die gebruik van die kwota moet hê.
Die kwessie word nog deur die EU oorweeg, sê Medupe. “Wat het hier gebeur? Het plaaslike meulenaars geslaap, of was dit halfgebakte, ondeurdagte regulasies van die staat wat ’n lekker skuiwergat vir hierdie handelaars geskep het?” is die markontleder mnr. Johann Strauss se kommentaar.
Strauss wys op die belangrikheid van tydige inligting in internasionale transaksies. Mielieboere het in 2016 lelik aan die kortste ent getrek het toe internasionale graanhandelaars begin agterkom het hulle kon witmielies invoer teen veel goedkoper as die meer as R5000/ton wat mielies in Februarie gekos het.
“Die internasionale graanhandelaars het tydig, maande vóór die res, die regte, relevante inligting gehad. Was hierdie handelaars skelm of het hulle re?ls oortree? Glad nie, hulle gebruik net die spelreëls, soos die staat voorskryf, tot hulle voordeel.”
Volgens Strauss moet die tydige rapportering van graaninvoer en-uitvoer so spoedig moontlik verpligtend gemaak moet word, aangesien dieselfde situasie as verlede jaar weer kan ontstaan. “Mielies is tans spotgoedkoop, omdat daar ’n ooraanbod is. Een van die belangrikste faktore wat die oorskot na normaal, of selfs 'n tekort, kan verander, is uitvoere.
“Soos wat sake nou staan, gaan uitvoerders, oftewel internasionale graanhandelaars, weer die binnebaan hê ten opsigte van hierdie syfers. Hulle gaan met ander woorde lank voor die res van die bedryf weet of die mielieprys met ten minste R500/ton gaan styg,” sê Strauss.