Die Openbare Beskermer (OB) ondersoek verdagte grondtransaksies met die regering in Limpopo waardeur ’n sakeman en hooggeplaaste ANC-politici glo ’n groot klomp geld gemaak het.
Landbouweekblad het vroeër vanjaar daaroor berig. Drie dele van die plaas Doornkraal is na bewering deur die sakeman, mnr. David Mabilu, van die munisipaliteit Polokwane teen onderskeidelik R420 000 (21,4 ha), net meer as R20 000 (2,2 ha) en R5 miljoen (27,6 ha) gekoop.
Hy het dit na bewering teen onderskeidelik R4 miljoen, R10 miljoen en R27,5 miljoen herverkoop aan die maatskappy Thubelisha Homes, wat deur drie ANC-politici besit word.
Dié maatskappy het na bewering op sy beurt twee dele daarvan deur die departement van openbare werke aan die provinsiale departement van plaaslike regering en behuising verkoop vir meer as R58,3 miljoen.
Mabilu se maatskappy Vhararani het na bewering ’n tender van die departement gekry om doktershuise vir die provinsiale departement van gesondheid op te rig en ’n huurooreenkoms is vir R1,2 miljoen per maand met die departement gesluit.
Die bedrag is drie keer meer as dié van mededingende tenderaars.
19 Desember 2011