
’n Gesin van die plaas Nuwejaarspruit buite Rouxville in die Suid-Vrystaat is ongedeerd nadat drie rowers hulle Saterdagaand (27 Oktober 2012) in hul huis aangehou het. Sers. Yanga Ngcukana, polisiewoordvoerder, sê die voorval het omstreeks 23:30 plaasgevind.
Die verdagtes het met ’n onbekende bedrag kontant en die 38-jarige boer se bakkie op die vlug geslaan. Dit is Sondag (28 Oktober 2012) naby Aliwal-Noord gevind.
Die voorval
’n Oop badkamervenster het die verdagtes toegang tot die huis gegee. Hulle het in die boer se slaapkamer inbeweeg en die egpaar wakker gemaak. Die boer is met ’n wapen aangehou en beveel om sy kluis oop te sluit.
Die egpaar is vasgebind en die verdagtes het deur die huis beweeg op soek na waardevolle items. Die egpaar se ses maande oue baba is glo nie aangeraak nie.
Ngcukana sê nog niemand is in verband met die voorval aangekeer nie. Mense met inligting oor die voorval word gevra om adj.off. Craig James Thomas by 082 855 2684 te bel.