
’n Vrou en vier seuns, tussen die ouderdomme van 12 en 17, is in verband met die moord op mnr. Owen Charles, ’n boer van Jansenville in die Oos-Kaap, in hegtenis geneem.
Intussen soek die Polisie in Noordwes na drie verdagtes in die moord op me. Ronel van Eck by haar plaashek, terwyl een verdagte aangekeer is vir die aanval op mnr. Allen Rodgers, ’n Amerikaanse plaasbestuurder.
Die vrou en seuns is aangekeer nadat die Polisie ’n verdagte voertuig op ’n pad tussen Plettenbergbaai en Knysna in die Wes-Kaap gejaag het. ’n Oor en weer skietery het tydens die jaagtog voorgekom. Luidens ’n berig op News24.com is die voertuig opgemerk deur ’n verkeersbeampte omdat dit geen nommerplate op gehad het nie.
Die beampte het die voertuig gevolg en polisiebeamptes het by hom aangesluit. Die bestuurder van die voertuig het beheer daaroor verloor en die voertuig het gerol en in ’n sloot tot stilstand gekom.
Polisiebewaking
Die vrou en twee van die seuns het glo ernstige beserings opgedoen en is onder polisiebewaking in ’n plaaslike hospitaal opgeneem. ’n Sesde verdagte het vermoedelik van die ongelukstoneel gevlug met beserings aan sy gesig. Die voertuig en verskeie gesteelde items wat in die voertuig gevind is, is Charles se besittings.
Intussen berig Volksblad dat een man in hegtenis geneem is vir die aanval op mnr. Allen Rodgers, ’n plaasbestuurder van Amerika wat op ’n plaas naby Ladybrand aangeval is. Die Polisie is glo op die spoor van ’n tweede verdagte.
Die Polisie in Noordwes sê die feit dat die drie verdagtes wat Van Eck na bewering vermoor het, ’n tweede voertuig gebruik het om op die vlug te slaan, bemoeilik dié ondersoek. Nog geen verdagtes is in dié verband aangekeer nie.
Bronne: News24.com - Volksblad