Vier mans het gister (28 November 2011) in die Grabouw-landdroshof verskyn in verband met ’n onlangse plaasaanval op Grabouw.
Me. Shirleen Booysen is verlede Maandag (21 November 2011) vermoedelik tussen 18:00 en 20:00 in haar huis op die plaas Blaawkrans naby Grabouw aangeval.
Mnre. Vuyani Baing (32), Mziwakhe Maqolo (29), Andile Booi (49) en Phumlani Stimele (28) word aangekla van poging tot moord en huisroof.
Booysen, ’n administratiewe sekretaresse van die Drumearn-boerdery, het onder meer breinbeserings opgedoen nadat sy drie keer geskiet is.
Mnr. André Mohr, plaasbestuurder, het haar in haar huis gevind. Booysen is tans nog in die hospitaal waar sy behandeling vir haar wonde ontvang.
Intussen is die vinnige reaksie van polisiebeamptes ná verskeie plaasaanvalle in die Wes-Kaap geloof. Agri Wes-Kaap het luidens ’n nuusverklaring gesê: “Ons wil graag die plaaslike polisietakke en veral die landelike veiligheidseenhede met wie ons op grondvlak werk, loof vir hul vinnige reaksie in tye van plaasaanvalle en plaasmoorde in die provinsie.”
29 November 2011