
Mnr. Basie Rosslee en sy vrou, Ina, is Sondagaand in hul huis oorval. Basie is erg aangerand en is na ’n hospitaal vir mediese behandeling geneem.
Volgens lt.kol. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, is drie verdagtes omstreeks 20:45 in verband met die voorval in hegtenis geneem. Die polisie is ingelig oor die aanval en het saam met private sekerheidsmaatskappye, onder meer Midvaal Peace Officers, Afriguard, VR Security en lede van die gemeenskapspolisiëringsforum, gereageer.
Hulle het die drie gewapende verdagtes in die slagoffers se Ford Ranger-bakkie opgemerk terwyl hulle in die rigting van die Vaaldam onderweg was. ’n Jaagtog het gevolg. Die verdagtes het beheer oor die voertuig verloor en deur ’n ander kleinhoewe se heining gejaag. Die drie verdagtes is toe aangekeer en in hegtenis geneem.
Twee ongelisensieerde vuurwapens, selfone en geld is in die voertuig gevind. Een van die verdagtes moes mediese behandeling ontvang nadat hy sy voet gebreek het terwyl hy probeer ontsnap het. Die verdagtes is aangekla van huisroof, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, poging tot moord, die besit van ’n gesteelde voertuig en die besit van gesteelde eiendom.
Mnr. Kobus Hoffman, VF Plus-LPW
in Gauteng, sê te midde van geweld en politieke onsekerheid waarin boere in
Gauteng gedompel is, is daar geen ander keuse as om by gemeenskapsveiligheidstrukture
betrokke te raak nie.
“Die VF Plus sal nie ophou veg vir ’n spesiale landelike beveiligingseenheid wat hom toespits op die voorkoming van plaasaanvalle en veediefstal met die samewerking van boere en ander veiligheidsforums nie.”
Vyf verdagtes gesoek in Klapmuts
Die polisie is op soek na vyf verdagtes in verband met ’n plaasaanval gisteraand by Klapmuts in die Wes-Kaap.
Volgens adj.off. Joseph Swartbooi, polisiewoordvoerder, het die vyf verdagtes ’n 64-jarige man, 15-jarige seun en 49-jarige vrou op ’n plaas naby die Herklaas Pilaar-pad aangerand en vasgebind.
Die vyf verdagtes het van die toneel gevlug met items wat uit die huis gebuit is. ’n Saak van huisbraak word ondersoek.
Enigiemand met nuttige inligting word versoek om Crime Stop te kontak by 08600 1011.