
Na gelang van die gehalte van ’n volstruis se vere kan een van dié voëls se vere pryse van tussen R250 en R1 000 haal.
Mnr. Ernst Janovsky, hoofbestuurder van Absa Agribesigheid, het op die 11de AMT-vooruitskouingskonferensie in Pretoria gesê weens die probleme wat dié bedryf ervaar, het vere en velle baie gesog geword.
Bewerings dat sommige volstruise se vere in die nagte van die voëls af gesteel word, doen die ronde. Mnr. Piet Kleyn, hoof uitvoerende beampte van die Volstruisbesigheidskamer (VBK), sê hulle het nog nie sulke klagtes van boere ontvang nie, maar klaar geplukte vere word wel uit pakhuise gesteel.
Verliese
Die verkoop van vere en velle vergoed tans vir die verliese wat boere ly weens die verbod op die uitvoer van volstruisvleis – weens die uitbreking van voëlgriep in April verlede jaar. Kleyn sê verskeie boere het egter al onder verediefstal deurgeloop, en verliese van tussen R50 000 en R100 000 is op plase aangeteken.
Janovsky voorspel wel dat met die afname in die getalle van volstruise in die land, dinge “weer positief kan draai vir die bedryf.” Hy’t egter gewaarsku teen die regulasie om alle volstruise op plase waar ’n virus gevind word, van kant te maak. Sowat 50 000 volstruise is weens dié regulasies sedert verlede jaar van kant gemaak.
Staat
Intussen het die VBK Woensdag (5 September 2012) met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye vergader om die situasie in die bedryf te bespreek. Kleyn sê alternatiewe maatreëls vir die bestryding van voëlgriep-virusse en die doodmaak van volstruise was bo-aan die agenda.
’n Tegniese komitee, wat bestaan uit verteenwoordigers van die bedryf, die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, navorsers en tegniese kundiges, is aangestel om oplossings te soek. Die komitee sal gereeld aan die VBK en die departement terugvoering gee.
Die registrasie van plase, wat ’n vroeëre voorstel van ’n taakspan van die Europese Komissie was, is ook bespreek. Kleyn sê volgens die departement kom dit voor asof meer plase en boerderye registreer, en die staat kyk ook na maniere om dié proses te bespoedig.
Ten opsigte van die beweging van volstruise op plase wat nog nie geregistreer is nie, sal die VBK voor einde vandeesweek voorstelle vir tussentydse oplossings doen. Dié situasie beïnvloed veral plase waar kuikens grootgemaak word om na ander plase vervoer te word.