
Die voorsitter van die SA Menseregtekommissie (SAMRK), adv. Lawrence Mushwana, het in ’n skrywe aan AfriForum bevestig dat die kommissie ’n openbare verhoor oor plaasmoorde gaan hou. Die besluit is geneem tydens ’n sitting van ál die SAMRK-kommissarisse, na oorweging van ’n formele versoek deur AfriForum.
Mnr. Ernst Roets, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê hulle verheug is oor hierdie stap. Die organisasie sal die kommissie ook versoek dat die geleentheid aan slagoffers gebied word te getuig.
“Die probleem is natuurlik dat die Regering steeds weier om enige statistieke oor plaasmoorde vry te stel. Aan die een kant wil dit voorkom of die krisis vererger, maar aan die ander kant het die departement van polisie al minder voorkeur aan plaasmoorde gee deur die destydse kommando’s in 2003 af te skaf en in 2007 te besluit om geen verdere syfers oor plaasmoorde vry te stel nie.
“Waar die Regering jare gelede erken het dat boere tydens buitengewoon ‘gewelddadige en moorddadige aanvalle’ geteiken word, is daar vandag ’n totale ontkenning oor die werklike omvang van die krisis.”
AfriForum het vroeër formele klagtes by die SAMRK ingedien teen die traak-my-nie-agtige ingesteldheid wat deur die SA Polisiendiens ingeneem is teen die voortslepende golf van gewelddadige plaasaanvalle en plaasmoorde.