
Openbare verhore oor die ontginning van skaliegas deur hidrouliese breking begin in September.
Die voorgestelde tegniese regulasies vir die proses is reeds in Oktober 2013 gepubliseer. Dit sluit in die beskerming van varswaterbronne, die vasstel van die potensiële impak wat hidrobreking op die omgewing kan hê en die beskerming van biodiversiteit.
Mnr. Thibedi Ramontja, direkteur-generaal van die Departement van Minerale Hulpbronne, het die versekering gegee dat die toepassing van regulasies streng gemonitor sal word om te verseker dat die gas veilig ontgin word om besoedeling van die omgewing en grondwater te keer.
Voornemende aansoekers wat die gas wil ontgin, sal hulle boonop ook moet verseker van die moontlike bedreigings wat met hidrobreking gepaard gaan en sal ook die geologie van die gebied moet ken. Toerusting en produkte wat vir die proses gebruik word, sal ook aan streng standaarde moet voldoen om varswater te beskerm. Dit is bekend dat die Karoo ’n waterskaarsgebied is.
Aansoekers sal ook moet aandui waar hulle hul water gaan bekom vir die hidrouliese proses. “Ek is oortuig daarvan dat indien probleme opduik, dit so vinnig opgetel sal word dat dit geen bedreiging vir die water in die gebied inhou nie.”
Na die konsultasieproses sal die finale regulasies opgestel word, waarna lisensies verwerk en uitgereik sal word.