
’n Beroep is op mnr. Des van Rooyen, Minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, gedoen om die inval van die herfs-kommandowurm tot ’n nasionale ramp te verklaar.
Luidens ’n verklaring van me. Annette Steyn, die DA se skaduminister van landbou, is dié stap noodsaaklik om geld aan boere te verskaf wat die plaag tans moet bestry. Talle boere se kontantvloei is onder druk weens die droogte wat hul reserwes uitgeput het.
“Dit is noodsaaklik dat die Regering doeltreffend en so gou moontlik optree. As hy dit nié doen nie, kan dit onder meer werksverliese tot gevolg hê,” lui die verklaring.
Die potensieel nadelige uitwerking op voedselsekerheid en opwaartse druk op kospryse word ook benadruk.
“Die verklaring van ’n nasionale ramp is noodsaaklik om te verseker dat die Tesourie noodfondse aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake beskikbaar stel om te verseker geld van die Nasionale Rampbestuurfonds word aan die geraakte provinsies beskikbaar gestel.”