
Die kleinhandelverkope van agt uit nege gemoniteerde suiwelprodukte was in die jaar tot Maart 2022 laer as in die vorige ooreenstemmende tydperk tot Maart 2021.
Die verkope van jogurt het die meeste gedaal, naamlik met 8,7%, terwyl room se verkope 7,4% laer was en vars melk s’n 6,7%, luidens ’n verslag deur die Suid-Afrikaanse Melkprosesseerdersorganisasie (Sampro) gegrond op syfers van die onderneming NielsenIQ.
Kleinhandelverkope van langlewemelk was in die betrokke 12 maande 2,9% laer as in die vorige 12 maande.
Sowat 42% van die totale hoeveelheid onverwerkte melk wat geproduseer word, word gebruik vir die produksie van ongegeurde en onversoete melkprodukte. Die kleinhandelverkope van dié produkte, wat vars en langlewemelk behels, was in Maart vanjaar 3,9% laer as in Maart 2021.
Die enigste produk waarvan kleinhandelverkope in die betrokke 12 maande hoër was, was gegeurde melk, naamlik met 0,8%.
Wanneer ’n mens na die kleinhandelverkope net in Maart 2022 kyk, vergeleke met Maart 2021, lyk die langlewemelkverkope beter en is dit 8,6% hoër, maar vars melk se verkope was 6,8% laer.
Al nege produkte waarvan die kleinhandelverkope en -pryse deur NielsenIQ gemonitor word, se pryse was in Maart 2022 hoër as in Maart 2021.
Vars melk was 3,8% duurder en langlewemelk 1%. Die ander prysstygings wissel van 0,8% vir botter tot 7,6% vir gegeurde melk.