
Trekkerverkope van 344 eenhede in Desember is 5.5% meer as die 326 eenhede wat verlede Desember aangemeld is, maar verkope van 6 464 eenhede vir die 2014-kalenderjaar is 2.5% laer as die 6 630 eenhede wat in 2013 verkoop is, sê die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerieassosiasie.
Stroperverkope van agt eenhede in Desember is een eenheid meer as die sewe eenhede wat verlede Desember verkoop is. Stroperverkope van 333 eenhede in 2014 is 4% minder as die 347 eenhede wat in 2013 verkoop is.
Volgens verslae in die bedryf het die meeste gebiede goeie reën gehad en lyk somergewasse oor die algemeen goed. Opvolgreën is egter nodig tot einde Februarie sodat die gewasse volwassenheid kan bereik. Kommoditeitspryse is steeds redelik stabiel, maar die invloed van lae ru-oliepryse op internasionale biobrandstof produksie kan later in die jaar graanpryse ongunstig raak.
Plaaslike boere se brandstofinsetkoste om die somergewasse wat nog op land staan te oes, asook vir gewasproduksie later in die jaar, behoort egter aansienlik laer te wees. Volgens ramings in die bedryf sal die mark in 2015 sowat 5% tot 10% laer wees as in 2014.