
Die 47 399 nuwe voertuie wat in September nuwe base in Suid-Afrika gekry het, is 14,3% minder as die ooreenstemmende syfer vir September 2015.
Naamsa (die National Association of Automobile Manufacturers of South Africa) sê die jaar-tot-datum verkope van nuwe voertuie het met 11,3% gedaal by vergelyking met die 2015-verkoopsyfer.
Mnr. Simphiwe Nghona, hoofbestuurder van Wesbank se kleinhandelverkope, sê dié jaar-tot-datum verkoopsyfer is bitter naby aan die bank se voorspelling dat die totale verkope van nuwe voertuie vanjaar met 12% sal afneem.
Nie goeie verskope nie
September is die laaste maand van die derde kwartaal en dit word gewoonlik gekenmerk deur goeie verkoopsyfers danksy spesiale aanbiedings om teiken-verkoopsyfers te behaal. Dit was egter nie die geval die afgelope maand nie.
By verre die meeste nuwe voertuie in Suid-Afrika word aan verbruikers deur handelaars verkoop waar die verkope van passasiers- en ligte kommersiële voertuie onderskeidelik met 14,4% en 14,8% gekrimp het. Dit kan ooglopend toegeskryf word aan stygende pryse (nuwe voertuie) en inflasie wat verbruikers se besteding kniehalter.
Volgens Nghona word die daling in die verkope van nuwe voertuie beslis beïnvloed deur makro-ekonomiese faktore. Die verbruiker se begroting ervaar meer en meer druk wat dit al hoe moeiliker maak om ‘n nuwe voertuig te koop.
Pryse het gestyg
Die pryse van nuwe voertuie het gestyg en in September (2016) het die gemiddelde voertuig wat gefinansier is R293 343 gekos wat 18% méér is as in die ooreenstemmende maand in 2015. En dít terwyl die verbruiker se begroting moet voorsien vir hoër lewenskoste én rentekoerse sonder ‘n ooreenstemmende verhoging in inkomste wat dit baie moeilik maak om bykomende skuld aan te gaan.
Nghona sê meer verbruikers koop gebruikte voertuie in ‘n poging om beter waarde asook meer bekostigbare afbetalingsvoorwaardes te bekom. Finansieringsaansoeke vir gebruikte voertuie het jaar-op-jaar met 6,7% gegroei en dít het tot prysstygings gelei. Die gemiddelde transaksiewaarde van ‘n voertuig in September 2016 was R191 236 wat ‘n verhoging van 8,7% verteenwoordig het.
“Die geskiedenis leer ons dat voertuigmark baie siklies is en ons nader nou die onderste draai van die siklus. Die uitslag van die ekonomiese graderingsagentskappe kan egter verreikende gevolge vir die land inhou en sal beslis ook voertuigpryse en verbruikersbegrotings direk én indirek beïnvloed,” het Nghona gesê.