In die lig van die volgende brandstofprysstyging moet die brandstofheffing verlaag word, eis die Vryheidsfront Plus.
Adv. Anton Alberts, die party se woordvoerder vir energiesake, sê met die petrolprys wat volgende week die R10 per liter-merk gaan oorskry, moet mnr. Pravin Gordon, die Minister van Finansies, nou daadwerklik optree.
Die Departement van Energie het Donderdag (28 April 2011) aangekondig dat die petrolprys met 29c per liter gaan styg, terwyl diesel per liter 16c duurder gaan word.
Die party het reeds vir so ’n optrede gevra. “Die VF Plus het sowat ’n maand gelede opgemerk dat die staat moet ingryp om die algemene belastinglas te verlig, anders gaan die middelklas kwyn en daarmee saam maatskaplike samehorigheid,” aldus Alberts.
‘Nasionale skande’
Volgens Alberts gaan die styging ’n uitkring-effek op die land se ekonomie hê, en sal dit “’n nasionale skande wees” as die Regering nie iets aan die kwessie doen nie.
Hy sê die Regering het ’n verantwoordelikheid om die harde skok wat die verbruiker te wagte kan wees, te versag en moet daarom weer na die belastingheffings kyk.
“Suid-Afrika sal nie altyd op ’n sterker rand kan staatmaak om internasionale prysstygings teë te werk nie. Ons sal interne verstellings moet maak om te sorg dat die brandstofprys nie weghardloop nie. Dit beteken dat belastings op brandstof verlaag moet word en prysmededinging ten opsigte van petrol toegelaat moet word, soos in die geval van diesel,” verduidelik Alberts.
29 April 2011