Die landbou-sektor in Afrika kan armoede en hongersnood op die vasteland uitwis, maar misluk in die doel, aldus ’n voorlegging van Nepad se sake-stigting en die Amerikaanse organisasie USAid.
Die voorlegging is Vrydag in Kaapstad ná die Wêreld Ekonomiese Forum gedoen, aldus `n berig in Sake24. Afrika suid van die Sahara is glo die enigste streek ter wêreld waar armoede toeneem, terwyl geboortesyfers, onderwys- en gesondheidsvlakke daal.
Volgens ’n verklaring van Nepad is die landbou se swak vertoning in die streek een van die redes vir dié agteruitgang. Volhoubare werkgeleenthede word nie geskep nie en daar word ook nie genoeg stapelvoedsel geproduseer nie.
Die vasteland se landbouproduksie het sedert 1970 met 19% gedaal. Intussen het 200 miljoen mense in die streek nie voedselsekerheid nie. Sowat 50% van Afrika se bewerkbare grond lê egter onbenut.
Me. Lynette Chen, uitvoerende hoof van Nepad se Sakestigting, sê Afrika se landbousektor sal die mas kan opkom as bestaansboere gehelp word om kommersiële entrepreneurs te word.
Bron: Sake24
9 Mei 2011