
Verligting is op pad vir die uitvoer van Namibiese speenkalwers na Suid-Afrika, het mnr. Mecki Schneider, uittredende voorsitter van die Lewendehaweprodusente-organisasie (LPO), aan Landbouweekblad gesê.
‘n Aantal van Suid-Afrika se voerkrale is geakkrediteer om uitvoere vanaf Namibië te ontvang en nóg voerkrale is in die proses om geakkrediteer te word. Die onus is op daardie abattoirs om naspeurbaarheid te handhaaf, met ander woorde die speenkalwers moet direk vanaf Namibië na die voerkraal gaan, daar moet hul verskuiwing van een kraal na ‘n ander bewys kan word en hulle moet ook rekord hou van elke dier wat na ‘n abattoir geneem word om geslag te word.
Nog haakplekkeDaar is skynbaar nog haakplekke weens aansoeke van Namibiërs wat deur die Suid-Afrikaanse owerhede teruggestuur word om korreksies aan te bring, wat die proses vertraag.
Vroeër is nuwe Suid-Afrikaanse regulasies ingevolge voorskrifte van die Internasionale Dieregesondheidsorganisasie (OIE) oor die invoer van lewende hawe ingestel. Dit het groot ontevredenheid onder Namibiese boere veroorsaak wat grootliks van speenkalf-uitvoere na Suid-Afrikaanse voerkrale en abattoirs afhanklik is. Nadat dié regulasies op 1 Julie in werking getree het, het speenkalf-invoer uit Namibië tot stilstand gekom.
Suid-Afrika reageer stadigDie LPO sê in sy jaarverslag wat op die jaarkongres in Windhoek voorgelê is dat die instel van hierdie streng maatreëls min met Namibië se gesondheidsmaatreëls te doen het en eerder ‘n handelsbeperking is om hoër produsentepryse in Suid-Afrika te skep deur die vraag te verhoog.
Die versengende droogte in Namibië het die druk op plaaslike veilings en abattoirs verhoog. Die grootste uitdaging vir die lewendehawebedryf was egter die instel van hersiene invoermaatreëls deur Suid-Afrika vanaf 1 Julie op alle lewendige diere. Meegaande grafiek van die Vleisraad van Namibië toon hoe die uitvoere na Suid-Afrika die laaste paar jaar verloop het. (Kyk na die bruin lyn.)
Die Suid-Afrikaanse owerhede het geen dringendheid getoon om ‘n oplossing te vind nie, nie eens om ‘n onderskeid tussen te tref teeldiere en vee wat vir abattoirs en voerkrale bestem is nie, volgens die verslag.