
Die vermeende Oos-Randse veedief, Tinus Groenewald, se appèlaansoek teen die weiering van borgtog is op Dinsdag 17 Junie afgekeur.
Groenewald is al vir tien maande lank in aanhouding en sy vorige aansoek om borgtog is nie deur die streekhof op Mokopane (voorheen Potgietersrus) toegestaan nie, omdat hy geen vaste bates besit nie. Hy het op Vrydag 13 Junie by die Hooggeregshof teen die weiering van borgtog geappèlleer, omdat hy glo nie ’n vlugrisiko is nie.
Adjudant-offisier Hardus Els, ondersoekbeampte aan die veediefstaleenheid in Modimolle, sê Groenewald is steeds in aanhouding. Die klagstate is op 25 Junie in die streekhof onderteken. Els sê tien sake word ondersoek en drie ander mense is saam met Groenewald aangekla. Al die beskuldigdes is in aanhouding.
Kort voor sy inhegtenisname in Augustus verlede jaar het Groenewald op sy Facebook-blad geskryf dat hy niks gesteel het nie en bewyse het dat hy die beeste gekoop het omdat hy self boer. Hy het ook geskryf “naamskending is ernstig”.
Hy het na bewering binne ses weke se tyd vee ter waarde van sowat R2,4 miljoen uit Gauteng, Limpopo en Noordwes gesteel en is vermoedelik lid van ’n sindikaat. Die polisie verdink Groenewald ook daarvan dat hy die baasbrein agter dié sindikaat is.
Die Gautengse Veediefstalforum het foto’s van die vragmotor wat Groenewald na bewering tydens die diefstal gebruik het aan die media gegee en Groenewald is kort daarna op Modimolle in hegtenis geneem.
Dié foto’s is by die Kranskop-tolhek geneem kort nadat Groenewald na bewering vee op mnr. Willem Barnard se Brahmanstoet by Modimolle gesteel het. Die polisie het die vragmotor en sleepwa wat tydens die diefstal gebruik is, gevind nadat die eienaar van die sleepwa hulle gekontak het. Groenewald het beide die vragmotor en sleepwa gehuur. Van die gesteelde vee is op Groenewald se hoewe gekry.