
Boere kan self ’n plan maak met hoë kragkoste deur veral op twee faktore te fokus, sê mnr. Koos Bouwer, die hoof van Koos Bouwer Konsultante.
Hy het op die 2011 AllFresh-konferensie by Sun City aan afgevaardigdes voorgestel om daarop te fokus om hul kragverbruik te verminder, veral tydens spitstye.
Bouwer sê ’n verbruiker se gebruik van elektrisiteit asook die tyd wanneer die krag verbruik word, kan die prys per kilowatt-uur beïnvloed. Hy sê van sy klïente het in verlede jaar sowat 38c per kilowatt-uur betaal, terwyl ander R1,75 per kilowatt-uur betaal het.
Bouwer sê aangesien kragtariewe oor die volgende paar jaar gaan bly styg, is dit belangrik dat verbruikers krag doeltreffender begin gebruik om hulself geld te spaar. Hy voorsien dat kragtariewe binnekort ’n vlak van tot R4,00 per kilowatt-uur kan bereik.
Doeltreffendheid
Bouwer sê eerstens is doeltreffendheid die sleutel tot besparings rondom kragverbruik. “Een van die maniere waarop jy dit kan doen, is om jou kragverbruik in spitstye te beperk en om jou stelsels doeltreffender te maak.”
Mnr. Stuart Symington, hoof uitvoerende beampte van die Varsprodukte-uitvoerdersforum, sê hy het onlangs ’n pakhuis besoek waar planne gemaak is om natuurlike lig in die te gebruik sodat ligte nie oral nodig is nie.
Hernubare energie
Die tweede aspek waarop Bouwer gefokus het, is die gebruik van hernubare energie.
“Baie mense sê hernubare energie is eenvoudig te duur omdat die tegnologie te duur is. Maar, voor jy hernubare energie kan begin gebruik, moet jy eers jou tradisionele kragverbruik doeltreffender maak. Dít sal besparings tot gevolg hê wat die verbruiker in staat sal stel om die nodige tegnologie aan te skaf.”
Bouwer sê deur dié twee faktore toe te pas, kan ’n kragverbruiker sy kragrekening met tot 31% laat afneem.
27 Oktober 2011