
Hoewel die tydelike vermindering van die algemene brandstofheffing waarskynlik nie sal voorkom dat brandstofpryse in April sal styg nie, verlig dit die pyn by die pompe, sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou.
Mnr. Enoch Godongwana, minister van finansies, het gister aangekondig dat die algemene brandstofheffing van 6 April tot 31 Mei met R1,50 per liter verminder sal word. Die heffing op petrol en diesel sal dus onderskeidelik R2,35 en R2,20 per liter wees.
Dié vermindering sal egter nie dieselverbruikers teen ’n prysverhoging beskerm nie. Die onderverhaling op diesel met 0,005% swael was gister volgens Netwerk24 R3,13 per liter. As die prys van diesel volgende week met sowat R1,50 per liter toeneem, sal dit sowat R1 800 kos om ’n Ford Ranger met ’n 80 liter-brandstoftenk vol te maak.
Maree sê die vermindering van die brandstofheffing is goeie nuus vir die landbousektor, verbruikers en die Suid-Afrikaanse ekonomie oor die algemeen.
Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB Agribesigheid, sê Godongwana se aankondiging kom op ’n tyd dat kostedruk reeds geruime tyd toeneem vir die landbousektor met massiewe prystoenames vir voer, kunsmis, brandstof, insek- en onkruiddoders.
Die koste van skuld het ook toegeneem aangesien die Suid-Afrikaanse Reserwebank verlede week die repokoers vir die tweede keer vanjaar verhoog het. Sedert 25 Maart is die nuwe repokoers 4,25%.
“Hierdie verlaging van brandstofpryse sal boere baat soos ons ’n besige tyd op die landbousektor se kalender betree met die plant van wintergewasse en die oes van somergrane en oliesade wat baie brandstof sal verbruik.”
Godongwana het ook die volgende verligtingsmaatreëls aangekondig wat ná 31 Mei toegepas sal word:
- Die vermindering van die basiese brandstofheffing met 3c per liter;
- Die afskaffing van die vraagbestuursheffing van 10c per liter op 95 loodvrye petrol wat in die binneland verkoop word;
- Die instelling van ’n prysbeperking op 93 oktaan-petrol;
- Die afskaffing van die publikasie van die departement van minerale hulpbronne en energie se voorligting op dieselpryse ten einde mededinging aan te moedig;
- ’n Hersiening van die regulerende rekeningkundige stelsel om te bepaal of aanpassing gemaak kan word om marges mediumtermyn te verlaag. Ingrypings sal deur die departement van minerale hulpbronne en energie oorweeg word om prysdruk op paraffien op mediumtermyn te verlig.
DEMPER OP STYGENDE VOEDSELPRYSE
Mnr. Kulani Siweya, landbou-ekonoom van Agri SA, sê die vermindering van die brandstofheffing is ’n nodige ingryping om die landbousektor en verbruikers te versterk teen die impak van stygende brandstofpryse op voedselpryse.
Aangesien die vermindering slegs tot einde Mei geldig is, meen Agri SA dit is noodsaaklik dat die regering toeganklik is om die voorgestelde ingrypings uit te brei na gelang van die toestand waarin die globale brandstofmark hom aan die einde van die twee maande bevind.
BELASTING OP BRANDSTOF OMSTREDE
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP, sê hoewel dit maklik is om brandstof te belas, bly dit omstrede. “Dit rus swaar op die armste lede van die samelewing, maar terselfdertyd verlaag dit die mededingendheid van Suid-Afrikaanse besighede. Almal in die land ly dus daaronder.”
Hy sê tans word die prys bereken asof alle brandstof in voltooide vorm ingevoer word, wat natuurlik nie die geval is nie. “Hierdie berekening verhoog Suid-Afrika se kwesbaarheid vir wisselings in die rand se wisselkoers.”
Volgens hom is die grootste oorsaak vir die verhoging van brandstofpryse die afgelope twee dekades nie hoër oliepryse nie, maar die laer waarde van die rand.
“Om die rand se waarde te verhoog, moet die ekonomie nie benader word as ’n brood wat verdeel moet word sodat almal ewe veel het nie, maar as iets wat moet groei sodat almal genoeg kan kry. As dit gebeur, sal minder rande nodig wees om ’n vat olie te koop.”
Boshoff sê die finansiering van die vermindering van die brandstofheffing met die verkoop van ’n gedeelte van Suid-Afrika se strategiese oliereserwe, is riskant.
“Dis soos ’n dam water wat slegs tydens droogtes gebruik moet word, maar ’n mens weet nooit hoe lank die droogte gaan wees voor dit verby is nie. ’n Mens kan byvoorbeeld verwag dat die oorlog in Oos-Europa nie ’n permanente uitwerking op die olieprys sal hê nie.”
Die invloed van swak ekonomiese groei op die rand, sowel as die uitwerking van ’n nuwe, ontluikende vervoerbedeling, is volgens hom meer permanent van aard en moet bepaal waarin belê word.
“Die uitdrukking lui dat geen goeie krisis vermors moet word nie. Dit lyk wel of die regering hierdie goeie raad in die huidige krisis volg.”