
BKB ondersoek beweerde bedrog ten opsigte van die vervalsing van handtekeninge en die onwettige verwydering van voorraad vanaf sy perseel by sy Stutterheim-handelstak.
Dié aankondiging kom nadat sommige kliënte van BKB hulle tot die media gewend het oor beweerde onreëlmatighede by dié tak. Landbouweekblad is in besit van verskeie fakture en skrywes in dié verband.
In een daarvan het ’n boer op 8 September sy besware onder die maatskappy se aandag gebring nadat hy ’n rekening gekry het vir 850 sakke veevoer wat hy na bewering nooit bestel het nie.
Toe hy navraag doen, is ’n handgeskrewe faktuur van ’n bestelling van nege maande vantevore aan hom gewys. Hy beweer sy handtekening is nageboots.
Besoek by die tak
Mnr. André du Toit, hoofbestuurder van handel by BKB, sê toe die eerste klag onder sy aandag gebring is, het hy reeds op 26 Julie ’n persoonlike besoek aan Stutterheim afgelê. BKB het ook met die plaaslike kopersgroep vergader.
“Die bewerings word in ’n baie ernstige lig beskou en die saak word tans deeglik deur ons rekening-afdeling en interne ouditspan ondersoek.
“BKB kan bevestig dat elektroniese kliëntehandtekeninge in ’n hoësekuriteitomgewing met absolute naspeurbaarheid bewaar word. Alle BKB-fakture het ’n watermerk agter die handtekening op die faktuur, wat die egtheid daarvan bevestig.
“Elektroniese handtekeninge kan nie deur die maatskappy se rekenaarstelsels gedupliseer word om op verskillende dokumente te gebruik nie.”
Fakture en maandstate
Du Toit het kliënte aangemoedig om te versoek dat fakture en maandstate per e-pos aan hulle gestuur word aangesien dit op BKB se hoofbediener voorberei en outomaties versend word.
“BKB is tot etiese sakebeginsels verbind en is reeds in gesprek met kliënte by Stutterheim om die aangeleentheid verder te ondersoek,” het Du Toit benadruk.
Mnr. Greg Miles van Stutterheim sê dit is jammer dat BKB eers nadat die media navraag gedoen het, ’n verklaring uitgereik het. “Ek is nie tevrede met die hantering van die kwessie nie. Boere is nie dom nie en hul rol moet erkenning kry.” Miles sê hy het ’n faktuur in sy besit waarop sy vrou se handtekening nageboots is.
Du Toit het gesê dat alle klagte deeglik ondersoek sal word en dat Miles die reg op sy eie mening het.