
Die finale skatting vir somergewasse is deur die Nasionale Oesskattingskomitee bekend gemaak. Die skatting vir mielies kan in die tabel hieronder gesien word.
Hoewel die oppervlakte onder wit mielies konstant gebly het, het die opbrengs (t/ha) met meer as 5% vanaf 25 Augustus se skatting tot die skatting van 27 September gestyg. Gewoonlik is veranderings tussen die voorlaaste en finale skatting baie kleiner (vanaf 2010 het witmielie-skattings vir hierdie tydperk van 0% tot 2% verander). Die opbrengs vir geel mielies is vir dieselfde tyd met ongeveer 2% opwaarts aangepas.
Die verandering per provinsie vanaf 25 Augustus tot 27 September kan in die volgende tabel gesien word.
Die grootste verandering (persentasiegewys) was in KwaZulu-Natal, met byna 8%. Dit was egter Noordwes, Mpumalanga en die Vrystaat wat die grootste tonnemaat-bydrae tot die styging gehad het.
Hoekom sal die Oesskattingskomitee so ver uit die kol gewees het met die vorige maande se skattings? Dit kan wees omdat ‘n groot deel van hierdie seisoen se aanplantings wit mielies besonder laat gedoen is. ‘n Verdere bydraende faktor is as gevolg van die erge droogte, skattings onbewustelik dalk meer pessimisties gedoen is.
Wat is die uitwerking hiervan op die witmielievoorraad in Suid-Afrika? Wit mielies sal steeds ingevoer moet word, maar die moontlike druk op die invoerprogram is nou substansieel minder. Dit veroorsaak weer dat verwagtings vir ‘n groot opwaartse beweging in witmieliepryse heelwat gedemp word.
Dit lyk in elk geval asof die mieliemark die 156 000 ton verhoging in oesgrootte verwag het. Pryse vir die Desember 2016 en Maart 2017 witmieliekontrakte het in die twee dae voordat die skatting bekend gemaak is, elke dag met R100 gedaal.
* Johann Strauss is 'n navorser by BVG Securities.