
As multirisiko-oesversekering eerder inkomste in plaas van opbrengs verseker het, sou baie meer boere dié soort versekering uitgeneem het. Dít is die mening van mnr. Deon Scheepers, dosent en navorser van die departement van landbou-ekonomie, voorligting en landelike ontwikkeling aan die Universiteit van Pretoria.
Die produk wat tans op die mark is, se verkoopbaarheid daal volgens hom elke jaar. “Ons het 'n heeltemal verkeerde produk vir boere. Dit werk nie vir hulle, finansierders, die Regering of versekeraars nie,” het Scheepers by 'n konferensie oor landbouversekering gesê.
Die indruk bestaan volgens hom dat dié soort versekering duur is. Scheepers sê die tyd is nou ryp vir verandering. “Die wisselvalligheid van prys is baie groter as die wisselvalligheid van opbrengs.”
Volgens Scheepers het Amerika 'n produk wat oesinkomste verseker die eerste keer in 1994 getoets en daarna het dit opbrengsgebaseerde multirisiko-versekering vervang.
Scheepers voorspel dat só 'n produk, waar rand/hektaar eerder verseker word, só goed deur Suid-Afrikaanse boere gebruik sou word, dat dit selfs nie eens meer nodig behoort te wees dat die Regering oesversekering ondersteun nie.
Hy is onseker of dit 'n goeie of slegte ding sou wees as die Regering betrokke begin raak. “Dinge in Suid-Afrika word gewoonlik gedoen wanneer hulle nié betrokke is nie.”