
Regsaksies kan volg oor verskeie aspekte van die inspeksiediens wat Prokon aan die varsproduktebedryf moet lewer. Talle bedryfsorganisasies het aangedui dat hulle die wetlikheid van die inspeksiediens, waarvoor Prokon deur die departement as diensverskaffer aangewys is, gaan betwis.
Volgens ’n woordvoerder van die groep bedryfsorganisasies (Landbouweekblad het vertroulik verneem dat onder meer die Tamatieprodusenteorganisasie, Hortgro, Subtrop en die Sitruskwekersvereniging by hierdie groep betrokke is), wat anoniem wil bly, kan die administratiewe geregtigheid van die proses sterk betwyfel word. “Dit was ’n ondeursigtige, arbitrêre proses wat gevolg is, enige argument of voorstelle (van ons kant af) word bloot geïgnoreer en daar was gebrekkige skakeling met die bedrywe. Die proses word nou inderhaas deurforseer.”
Verouderde metodiek
“Die bedrywe het nie sodanig wesentlike probleme met inspeksies nie. Ons grootste besware is teen die metodiek wat beoog word. ’n Duur eindpuntinspeksie-metode wat nêrens in die wêreld meer gebruik word nie, word vir ons beplan.
“Ons het ook baie vrae oor die praktiese implementering hiervan deur Prokon. Tans het ons geen duidelikheid oor hoe kapasiteit, kundigheid, hoe inspeksie-koste bereken is, of hoe kostes verhaal, appèlle hanteer of hoe dubbel-inspeksies voorkom gaan word nie. Hoe gaan inspeksie-protokolle (SOP’s) werk, is die nodige toerusting beskikbaar en nog vele ander vrae is onbeantwoord.
“Hierdie (beplande inspeksies) gaan onnodige koste sonder enige wesentlike voordele vir die bedryf of die verbruiker tot gevolg hê. Dit gaan bloot kostes opjaag en produkte se winsgewendheid verder onder druk plaas, wat veral kleiner en nuwe produsente baie negatief kan raak,” verduidelik die woordvoerder.
Boere nie verantwoordelik
Landbouweekblad is in besit van ’n skrywe van die Tamatieprodusente-organisasie (TPO) wat aan markmeesters, markagente, groothandelaars, verspreidingsentrums en invoerders versprei is, waarin die TPO kennis gee dat sy lede nie die bevel van Prokon om inspeksie-kostes van produsente se inkomste uit verkope te verhaal, goedkeur nie.
“Na deeglike regsadvies ontken ons enige verpligting teenoor Prokon,” lui die skrywe. In die skrywe maak die TPO dit duidelik dat hulle die wetlikheid van hierdie eis van Prokon voor die hof sal daag.
Volgens mnr. Etienne Booyens, uitvoerende hoof van Prokon, is Prokon slegs die gemagtigde instansie, aangewys deur die departement, om die diens uit te voer. “As gemagtigde maatskappy moet ons ons opdragte van die departement uitvoer. Tans betaal geen produsente nog heffings nie en ons doen nog net rond en bont inspeksies om probleemareas te identifiseer. Ons sal van April af in volle gang inspeksies begin doen,” verduidelik Booyens.
Na vele probeerslae was die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie beskikbaar vir kommentaar nie.