
Gegewe die onstuimige kommoditeitspryse en wisselkoers is eenvoudige strategieë vir verskansing nou graanboere se veiligste keuse.
Só sê mnr. Jannie van der Watt, hoofbestuurder van GroCapital Finansiële Dienste (GroCapital), 'n afdeling van Afgri.
Groot skommelinge veral die afgelope 12 maande in die wisselkoers en kommoditeitspryse het boere en gebruikers aan groot wisselings in inkomste en produksiekoste blootgestel.
Moenie markte probeer uitoorlê nie
Van der Watt se raad aan boere is om nie die wisselvallige markte te probeer uitoorlê nie. Vooruitsigte vir die rand bly onseker en sal deur sowel internasionale as plaaslike risiko’s beïnvloed word.
“Die korrekte verskansingstrategieë teen prysrisiko, hetsy dit wisselkoers of kommoditeit is, sal boere help om in onsekere tye 'n redelike wins te maak.”
“Kliënte wat weens die volatiliteit in die kommoditeits- en wisselkoersmarkte in die versoeking kom om spekulatiewe posisies in te neem, behoort 'n afsonderlike spekulatiewe rekening te open en vooraf te besluit hoeveel hulle bereid is om daarin te belê,” sê Van der Watt.
Dramatiese skommelinge
Van September 2014 tot Augustus 2015 was die weeklikse gemiddelde verskil in die rand se hoogste en laagste waardes 32 sent, maar in die daaropvolgende twaalf maande was dit 113% hoër, naamlik 68 sent.
Terselfdertyd was die gemiddelde weeklikse verskil in die hoogste en laagste witmieliepryse tussen September 2014 en Augustus 2015 R143/ton, teenoor R212/ton tussen September 2015 en Augustus 2016.