Kundiges het al verskeie moontlike redes vir die grootskaalse vrektes onder die wêreld se heuningby-bevolking geïdentifiseer. Luidens ’n berig op News24.com dra heuningbye deur middel van bestuiwing sowat $200 miljard tot die wêreldekonomie by.
Die feit dat sowat 30% van die bykolonies in Amerika, 20% van die bykolonies in Europa, asook bykolonies in Afrika deur grootskaalse vrektes bedreig word, laat wetenskaplikes nou na antwoorde soek.
Die verlies aan bye kan die wêreld duur te staan kom, aangesien 52 van die wêreld se gewildste gewasse – soos sojabone, kokoa en amandels – op bestuiwing staatmaak vir hul voortbestaan. ’n Studie wat in 2009 gedoen is, bepaal dat bestuiwing deur insekte sowat $212 miljard per jaar werd is. ’n Afname in byegetalle kan dus tot ’n afname in voedselproduksie en -sekerheid lei te midde van ’n voortdurend groeiende wêreldbevolking.
Drie moontlike redes
Navorsers het veral drie verskillende redes vir die grootskaalse vrektes onder kolonies geïdentifiseer. Dit sluit in parasiete, virusse en fungusse wat saamwerk, en blootstelling aan insekwerende middels. ’n Afname in die verskeidenheid plantsoorte – en die voedingswaarde vir bye – speel ook ’n rol.
Van die kundiges gee die gebruik van insekwerende middels soos clotianidin die skuld vir die vrektes, wat glo reeds aan grootskaalse vrektes onder bye in verskeie lande gekoppel kon word.
Nog ’n bedreiging is die varroa-myte, wat aan bye vasklou en op hulle teer terwyl die myte gevaarlike virusse versprei. Derdens word die vrektes toegeskryf aan ’n kombinasie van ’n virus en ’n fungus wat as Amerikaanse jongbysiekte bekend staan en veral in Amerika voorkom. Dit kan bye se navigasiesisteem en geheue aantas wat uiteindelik daartoe kan lei dat ’n kolonie vernietig word.
Bron: News24.com
8 Maart 2011