Suid-Afrikaners sal voortaan meer wynplase op hul rekenaars en selfone kan sien met die uitbreiding van Google se Street View.
Luidens ’n berig op News24.com sluit die lys van wynplase wat nou op die rekenaarprogram te sien sal wees, Boekenhoutskloof-wynlandgoed, Groot Constantia, Hartenberg, Môreson, Rustenburg-wyne en Warwick in.
Altesame 30 van die land se wynplase is nou op Street View te sien. Die program gaan verder uitgebrei word om Botswana se stede en toerisme-attraksies in te sluit.
Opdatering
“Ons is baie opgewonde oor die opdatering van Street View om meer beeldmateriaal van die Kaapse-wynland beskikbaar te hê en ons sien uit na die uitbreiding van die tegnologie na Botswana,” sê me. Julie Taylor, hoof van kommunikasie en skakelbeampte van Google in Afrika suid van die Sahara.
Dié program het al tot omstredenheid in verskeie lande gelei, met kommer oor die skending van privaatheid en die beskikbaarheid van inligting aan terroriste. Baie dele van Suid-Afrika, soos informele nedersettings buite Kaapstad en Soweto en groot dele van die Noord-Kaap is nog nie op Street View te sien nie.
Bron: News24.com
6 Februarie 2012