Dr. Shaun Morris van Octavoscene, ’n raadgewende veeartsenykundige onderneming vir voerkrale, sê die regering verdien lof vir sy behulpsaamheid om die probleem so spoedig moontlik op te los. “Die owerhede het die afgelope tyd uit hul pad gegaan en moeite gedoen met inspeksies, waarnemings en opvolgaksies. Al die provinsiale veeartsenydienste is betrokke en is veral in die Vrystaat, Noordwes en by sommige laboratoriums baie behulpsaam.”
Luidens die jongste verslag van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling vroeër vandeesmaand oor die voorkoms van bek-en-klouseer buite die beheerde gebied, was daar sedert Mei verlede jaar altesaam 96 uitbrekings, waarvan 4 heeltemal onder beheer gebring is – 2 in KwaZulu-Natal en 2 in Gauteng.
Die aktiewe gevalle waar die siekte nog in die voorheen vrye gebied bestry word, sluit in 66 gevalle in KwaZulu-Natal, 14 in Noordwes, 8 in Limpopo, 1 in Gauteng en 3 in die Vrystaat.