
Die Vrystaat se omstrede Vrede-melkprojek en die voormalige LUR en sy amptenaar-vriendin onder wie se leiding miljoene se belastingbetalergeld na hierdie projek gevloei het, is opnuut in die nuus nadat die Openbare Beskermer (OB) se staatskaping-verslag vrygestel is.
Landbouweekblad verneem betroubaar daar is in provinsiale regeringskringe kommer oor groot bedrae geld wat glo steeds uit staatskoffers vir die projek oorbetaal word.
Rondom dieselfde tyd as adv. Thuli Madonsela se vrystelling van die staatskaping-verslag, is berig dat mnr. Mosebenzi Zwane, voormalige Vrystaatse LUR vir die landbou en nou Minister van Minerale Hulpbronne, sy jarelange bondgenoot, me. Seipati Dlamini, as adjunk-direkteur-generaal belas met minerale regulering in die nasionale departement aangestel het.
Dié is ’n sleutelposisie, en gaan gepaard met die mag om mynbou-lisensies uit te reik of terug te trek, het die nuus-webtuiste Mineweb berig. Hierdie bekendmaking het nuwe olie op die vuur gegooi van korrupsie-bewerings wat rondom Zwane woed.
Gedurende Zwane se tyd as Vrystaatse landbou-LUR, en tydens die vestiging van die Vrede-suiwelprojek sowat vier jaar gelede buite sy geboortedorp, was Dlamini die provinsiale departement se finansiële hoof.
Toe Zwane in 2015 op omstrede wyse deur President Jacob Zuma as mynbou-minister aangestel is, het sy hom as personeelhoof na daardie kantoor gevolg. Intussen het hy haar, glo sonder om aan die nodige protokol-vereistes te voldoen, as adjunk-direkteur-generaal in beheer van mynbou-lisensies aangestel.
Intussen word daar in Vrystaatse kringe nou al maande in groot spanning gewag op die vrystelling van nóg ’n OB-verslag, spesifiek na die Vrede-projek en bewerings dat onder meer R40 miljoen tot R144 miljoen onregmatig vir die bedryf van die projek na die maatskappy Estina oorbetaal is.
Estina het glo bande met die Gupta-familie, wat van grootskaalse staatskaping beskuldig word. Die vinger word al sedert 2013 na beide Zwane en Dlamini gewys vir hul rol in hierdie beweerde onregmatige oorbetalings.
Hernieude beroepe is sedert Madonsela se staatskaping-verslag vir vrystelling van die OB se bevindings oor die Vrede-projek gedoen. Mnr. Roy Jankielsohn, DA-leier in die Vrystaatse wetgewer, sê dit is algemene kennis dat die Vrede-projek sonder die voorgeskrewe prosedures, ’n begroting of lewensvatbaarheidstudie in die lewe geroep is.