‘n Verslag oor die gewelddadigheid van misdaad in Suid-Afrika gee nie die ware stand van sake weer nie, sê die Ministerie van Polisie.
Luidens ‘n verklaring is die verslag van die Sentrum vir die Studie van Geweld en Versoening (SSGV) Dinsdag (9 November) vir openbare kommentaar vrygestel. Dit is ‘n versameling van drie jaar se ondersoeke na gewelddadige misdade.
Bruikbare debat
Volgens me. Maggie Sotyu, adjunk-minister van Polisie, was die verwagting dat die verslag vrae rondom die redes vir die hoë vlak van gewelddadigheid van misdaad in Suid-Afrika duidelik en krities sou beantwoord. “Ons het nie verwag dat die verslag ons meer oor die voor die hand liggende faktore rondom die geweldadige aard van Suid-Afrika, in vergelyking met ander ontwikkelende en ontwikkelde lande sou vertel nie.”
Ernstige kommer heers glo in die ministerie oor elemente van die verslag, hoewel die voel is dat dit ‘n bruikbare debat oor misdaad in die land tot gevolg kan hê.
Antwoord nie vrae
Me. Jenni Irish-Qhobosheane, sekretaris van Polisie, sê hulle glo nie dat die verslag die kwessies rondom die redes vir die geweldadige aard van misdaad aanspreek nie.
“Daar was niks buitengewoon nuut wat ons geskok of verras het nie, byvoorbeeld die voorstelle en planne is niks nuut nie,” sê sy.
Verdere navorsing
Die verslag kyk na bewering nie behoorlik na die omgewing van polisiëring na 1994 nie, en die studie se konsepte van ‘n kultuur van geweld en misdadigheid moet beter verduidelik en verstaan word.
Kommer bestaan ook oor of beskikbare data vertrou kan word, en die ministerie het opgemerk dat die insameling van data oor geweld in die land verbeter moet word. Beperkte inligting word ook weergegee oor geweld in landelike gebiede.
Die departement kommunikeer tans met wetenskaplikes en akademici vir meer duidelikheid oor die verslag, terwyl hulle ook met Statistiek SA saamwerk rakende ‘n studie oor slagoffers wat in Januarie 2011 sal begin.
10 November 2010