Die Kabinet het die voorstelle en die verslag wat ‘n spesiale taakspan oor die suur mynwatersituasie op die Witwatersrand bekend gestel het, aanvaar.
Luidens ‘n berig op Engineering News Daily sê mnr. Jimmy Manyi, woordvoerder vir die Kabinet, die verslag sal Donderdag (24 Februarie) openbaar gemaak word.
Mnr. Pravin Gordon, Minister van Finansies, gaan na verwagting Woensdagmiddag (23 Februarie) bekend maak watter finansiële oplossings vir die situasie oorweeg word. Volgens die berig is fondse reeds beskikbaar om die situasie in die westelike mynkom, waar suur mynwater reeds in riviere inloop, aan te spreek.
‘n Pompstasie sal voor Maart 2012 in plek moet wees om te keer dat suur mynwater uit die sentrale mynkom uitloop. Manyi sê die Kabinet het ook ooreengekom dat verdere aandag gegee moet word aan die moontlikheid van omgewingsbelasting.
Afsonderlike aandag
Mnr. Trevor Manuel van die Nasionale Beplanningskommissie sê daar sal afsonderlike aandag aan die westelike, sentrale en oostelike mynkomme gegee word, aangesien die erns van die situasie by elke mynkom verskil. Hy sê daar is nie rede tot paniek nie. Kanale word reeds gebou om die suur mynwater wat sedert 2002 uit die sentrale mynkom syfer, te herlei.
Volgens Manuel moet daar ook dringend aandag gegee word aan ‘n pompstasie om die situasie in die sentrale mynkom aan te spreek.
Voorstelle
Van die voorstelle sluit in:
1. Die toepassing van vloeivertragings om die vlak van uitvloei uit die mynkomme te verlangsaam.
2. Verlaging van koste vir die hantering van suur mynwater.
3. Verbetering van watergehalte deur korttermynneutralisasie en die verwydering van metale.
4. Verwydering van soutladings in riviere moet op die lange duur oorweeg word.
5. Verbeterde monitering van die situasie en navorsing om besluitneming oor suur mynwaterhantering te rig.
Bron: Engineering News
23 Februarie 2011