Versoening tussen SA Stamboek en die Landbounavorsingsraad (LNR) begin al meer onwaarskynlik lyk.
SA Stamboek gaan tans voort om sy eie diens vir diereproduksie-aantekeninge te skep en die LNR gaan steeds voort daarmee om die diere-aantekeningstelsel, Intergis, na Pretoria te verskuif.
SA Stamboek het op sy jaarvergadering bekend gemaak het dat hy ’n nuwe, alles-in-een-diens met die hulp van voormalige personeellede van die LNR gaan aanbied. In reaksie het die LNR gesê dat hy ook voortgaan met sy mandaat van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye om Intergis na die openbare sektor te verskuif.
Doeltreffendheid
Die LNR sê die verskuiwing is om die doeltreffendheid en noukeurigheid van data en die bestuur van die diereverbeteringskemas te verseker. Dit sal ook bestuurskoste verminder, die doeltreffendheid van navorsing en ontwikkeling verbeter en die LNR in staat stel om ’n wyer reeks dienste aan veeboere te lewer.
Met die verskuiwing van die stelsel na ’n LNR-perseel kan ook voldoen word aan die vereiste om data te beskerm en ’n openbare diens te lewer, sê me Nkami Sethole, woordvoerder. Sy sê daar word al sedert Junie vanjaar met Stamboek oor die verskuiwing onderhandel en die vertraging word veroorsaak deur SA Stamboek se weerstand.
Die kwessie van betaling is deel van die gesprek. Dr. Pierre van Rooyen, hoofbestuurder van SA Stamboek, het vroeër gesê die LNR het die afgelope drie maande sy diensgeld weerhou en regstappe kan selfs volg indien die LNR nie sy rekening met Stamboek vereffen nie.
2 November 2011