Die land se boere behoort deur die Regering vertroetel en nie onderdruk te word nie, sê dr. Pieter Mulder, adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye. Luidens ’n verklaring het Mulder die afgelope naweek die Outeniqua-landbouskou op George met dié boodskap geopen: “Suid-Afrikaanse kommersiële boere behoort nie onder druk geplaas te word sodat hulle voel hulle word weggejaag nie.”
Hy het glo gereageer op die Georgië-regering se aanbod om plaaslike boere daarheen te lok. Mulder het spesifiek na die groenskrif oor grond, die nuwe arbeidswette en die nuwe wet op verblyfsekerheid verwys wat ingrypende gevolge vir die landbousektor kan hê.
Tolk tussen sektor en Regering
Mulder beskou dit as sy taak om as tolk tussen kommersiële boere en die Regering op te tree. “Lande soos Kenia, Tanzanië en Zimbabwe het as gevolg van kortsigtige politieke besluite hul kommersiële landbousektor vernietig. As ’n land een keer daardie kundigheid verloor het, is dit baie moeilik om dit weer terug te kry,” aldus die verklaring.
Voordelige rol
Mulder sê as kommersiële boere sekerheid oor hul grond en toekoms het, die Regering verbaas sal wees oor die voordelige rol wat hulle kan speel om opkomende boere op te lei en in die toekoms voedselsekerheid vir Suid-Afrika te waarborg.
Volgens Mulder het die landbousektor die potensiaal om meer werkgeleenthede as die mynbousektor te skep. Hy sê egter as die huidige onsekerhede nie opgelos word nie, meer werkverliese in die sektor gaan voorkom as wat nuwe werkgeleenthede geskep sal word.
7 Maart 2011