Parlementslede het vertroue in die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye verloor om voedselsekerheid in die land te bewerkstellig.
Dit kom nadat die departement verskeie kere nie planne na die tafel kon bring oor hoe hy die kwessie daadwerklik gaan hanteer nie.
Toe die departement ’n voorlegging oor sy organisatoriese verslag aan die Parlement se portefeuljekomitee vir landbou, bosbou en visserye gemaak het, het veral die ANC-LP’s nie geskroom om hul ongelukkigheid oor die leierloosheid in die departement te opper nie.
Daar word gemeen dat me. Tina Joemat-Pettersson, minister, die departement “makrobestuur” en dat senior amptenare nie toegelaat word om hul take uit te voer nie.
Sonder leier?
“Hoe kan die departement sonder ’n leier funksioneer? Ek is teleurgesteld en meen dat daar geen betekenisvolle vordering gesien sal word nie,” het mnr. Salam Abram, ANC-LP, gesê. ('n Direkteur-generaal is sedert die vergdering aangesrtel.)
Die verslag wat die departement voorgelê het, is ook as niksseggend gesien. “Die inhoud gee my geen hoop nie. In die tyd van nou tot 2014 sal ons nie veel in die landbou sien gebeur nie,” het Abram gesê.
“Die probleem is dat die departement nie ernstig is om die werklike kwessies aan te pak nie. Die Landbounavorsingsraad (LNR) staan op die randjie van bankrotskap, maar die departement doen niks daaraan nie,” het hy gesê.
Mnr. Lourie Bosman, DA-LP, meen ook dat die departement nie ernstig is oor kosproduksie nie. “Daar is nie ’n ware raamwerk wat die departement het om dit volhoubaar en winsgewend te maak nie. Ons praat nou al vyf jaar oor biobrandstof en niks word gedoen nie. Daar is ’n oorskot mielies in die land wat dáár verbruik kon word.”
6 September 2010