Die LBK/IDC se vertroue-indeks vir landboubesighede is op die hoogste vlak in drie jaar, sê die Landboubesigheidskamer (LBK). Luidens ’n verklaring het die indeks op 62 basispunte in die eerste kwartaal vanjaar te staan gekom, wat 13% hoër is as dié van die vierde kwartaal verlede jaar en 43% hoër as die eerste kwartaal verlede jaar.
Dié gunstige indeks word grootliks toegeskryf aan hoër kommoditeitspryse, ’n toename in internasionale vraag, die herstel van die Suid-Afrikaanse ekonomie ná die resessie en ’n relatiewe verbetering in landboutoestande vergeleke met verlede jaar.
Die staat se aanduiding dat hy met die kommersiële landbou wil saamwerk en die Regering se nuwe groeiplan kan ook bydraende faktore tot die gunstige houding wees. Die koste van kapitaal, infrastruktuur en dienslewering én die vloede en droogtes wat in sekere dele voorgekom het, benadeel die bedryf egter.
Bedryf is versigtig
Die LBK merk op dat hoewel die herstel in die indeks gunstig is, die bedryf steeds versigtig is, veral ná die resessie. Die vergelyking van die eerste kwartaal van verlede jaar se omset en nettobedryfsinkomste met dié kwartaal s’n, toon ’n aansienlike verhoging. Op kort termyn, wanneer die vierde kwartaal van verlede jaar se syfers met dié van die eerste kwartaal vanjaar vergelyk word, is die inkomste laer en het die omset slegs gering toegeneem.
Die moontlikheid vir ’n toename in werksgeleenthede is hoër as verlede jaar, maar weens die druk op inkomste, word dié neiging nie binnekort verwag nie.
Uitvoervolumes het op kort en langer termyn toegeneem, hoofsaaklik weens ’n toename in die internasionale vraag vanweë die herstel van die wêreldekonomie en lae internasionale voedselvoorrade.
Volgens die indeks is dit steeds moeilik om krediet aan te gaan, veral weens die feit dat boere nie tans in staat is om lenings betyds terug te betaal nie. ’n Daling word wel in die eerste kwartaal vanjaar verwag ten opsigte van “slegte skuld”.
15 Maart 2011