
Luidens ’n mediaverklaring sê dr. Theo de Jager, ondervoorsitter, ondanks die erkenning van senior leiers van die ANC oor kapasiteitstekorte en probleme met korrupsie in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, word die skuld vir mislukte grondhervorming voor die deur van die kommersiële landbou gelê.
De Jager het gereageer op ’n uitspraak van pres. Jacob Zuma in sy presidensiële begrotingsdebat waarin hy boere daarvan beskuldig het dat plase wat oorgedra is, oor die algemeen in ’n verwaarloosde toestand is.
“Dit is swak administrasie en die gebrekkige implementering van grondhervormingsprogramme in die departement wat veroorsaak dat produksie op grondhervormingsplase misluk en nie verwaarlosing deur vorige grondeienaars nie”, aldus De Jager.
Irrasioneel
De Jager meen dit is irrasioneel om van boere te verwag om verdere beleggings in ’n plaas te maak wat deur die staat gekoop gaan word en aan ’n gemeenskap gegee sal word. Hy sê dit is veral nie moontlik in gevalle waar ’n grondeis langer as ’n dekade voortsleep en die staat ’n grondeienaar slegs 60% van die markwaarde van die grond aanbied nie.
Hy sê ’n bepaalde suksesvolle swart boer, wat sy grond sonder vergoeding weens besetting verloor het, wag steeds op mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming, wat ’n ander plaas aan hom belowe het.
De Jager meen ’n gebrek aan kundigheid en vaardigheid in die departement en die oormaat oud-aktiviste wat in senior posisies in die departement aangestel is, is die belangrikste rede vir die mislukking van grondhervorming.
“Totdat korrupsie en die onvermoë in die departement uitgewis en bekwame administrateurs aangestel is, het grondhervorming in Suid-Afrika nie ’n kans om te slaag nie.”