
Tot die helfte van die middels vir oesbeskerming in sekere Afrika-lande is vervals en dit hou ernstige nadele vir gebruikers en die omgewing in.
“Dis moeilik om betroubare syfers vir Afrika te gee, maar ons meen sowat 50% van die totale mark koop generiese produkte uit China en Indië. Baie vervalste en onwettige produkte in die mark laat ons ly,” het mnr. Erich Bureau, Bayer se hoof van sake-ontwikkeling in Afrika, by Bayer Cropscience se hoofkantoor in Monheim, Duitsland aan Landbouweekblad gesê.
Hy beraam 10% tot 20% van dié produkte op die kontinent is onwettig.
“In sekere lande in Sub-Sahara-Afrika, wat minder gereguleer word en daar nie die vermoë is om regulasies af te dwing nie, is dit 40% tot 50%," sê hy.
Die maatskappy brei tans sy voetspoor in Afrika uit. In 2012 het hy kantore in agt lande gehad. Teen 2015 behoort nóg ses lande op die lys te wees.
Vervalste produkte is 'n groot bekommernis vir die maatskappy, wat sowat 27% van sy inkomste in Afrika uit nuwe produkte verdien en dus heelwat geld aan navorsing en ontwikkeling bestee.
'Ons werk saam met plaaslike owerhede om die vervalste produkte uit te roei. Dit word deur opleiding en kommunikasie aan boere, kleinhandelaars, verspreiders en doeane-owerhede gedoen. Hulle moet sensitief wees vir die risiko om vals produkte deur te laat. Dit hou 'n risiko vir verbruikers en die omgewing in.'
Bureau sê die vervalste produkte is dikwels van 'n swak gehalte, die middels is onbekend en baie keer ook nie die regte konsentrasie en samestellings nie.
Die maatskappy het ook tegnologie ontwikkel om vervalsings te beveg.
“Ons probeer seker maak boere kan die ware produkte uitken deur watermerke op die verpakking aan te bring. Sover ons weet is dié merke nog nie vervals nie, maar met die vervalsers weet jy ook nooit nie. Hulle is baie vindingryk,' sê Bureau.