Die georganiseerde landbou wil met verkeersowerhede vergader om oplossings vir die vervoer van werkers te bespreek, sê Vrystaat Landbou (VL).
Mnr. Henk Vermeulen sê hulle het baie simpatie en meegevoel met die werkers en families wat geraak is deur ’n ongeluk in die Oos-Vrystaat waarin sowat 50 plaaswerkers beseer is.
Luidens ’n berig op News24.com het die ongeluk Dinsdag (10 April 2012) op die R26 naby Fouriesburg plaasgevind. Mnr. Jeffrey Wicks, woordvoerder vir Netcare 911, sê verskeie van die werkers is ernstig beseer. Reddingswerkers het van die werkers gevind waar hulle in die pad gelê het, en die vragmotor waarop hulle vervoer is, het op sy sy gelê.
Me. Annelize Crosby, parlementêre woordvoerder vir Agri SA, sê hoewel dit nie onwettig is om werkers met vragmotors na dorpe te vervoer nie, raai hulle boere af om dié opsie te kies. “Die huidige beleid bepaal dat die vragmotor of bakkie waarop werkers vervoer gaan word, se kante ’n sekere hoogte moet wees.”
Voorkom nie ongeluk
Vermeulen sê ongelukkig kan dié bepalings nie ongelukke voorkom nie. Veral die landbou- en konstruksiebedryf sit met ’n “penarie” wat die vervoer van werkers betref.
“Ons wil met verkeersafdelings vergader om meer haalbare en praktiese oplossings vir die vervoer van werkers te soek,” sê Vermeulen.
Hy sê die Regering het vroeër besluit om taxi’s te voorsien om werkers op sekere dae en tye na dorpe te vervoer. Dié taxi’s is nie betaal nie, derhalwe het hulle opgehou om werkers te vervoer. ’n Ander uitdaging is dat baie taxi-bestuurders plaaswerkers uitbuit met die reistariewe wat hulle vra.
Bron: News24.com
11 April 2012