Die verbod op die vervoer van diere met gesplete hoewe en verwante produkte is in die grootste deel van KwaZulu-Natal opgehef, sê die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye.
Luidens ’n verklaring volg dít nadat toetse vir bek-en-seer negatief was vir die gebiede wes van die N2 in die provinsie. Dié verbod op beweging is egter steeds van krag in die distrikte van Umkhanyakude, uThungulu en Zululand.
Hoewel die verbod opgehef is, versoek die departement die landbougemeenskap om steeds hul plaaslike veeartsenykunde-kliniek in kennis te stel as hulle beoog om diere met gesplete hoewe en verwante produkte te vervoer.
Suid van Umfolozi
Ondersoeke vir die virus is suid van die Umfolozi voortgesit nadat monsters in dié distrik voorgekom het. Die verste punt van besmetting moet nou vasgestel word.
Die omgewings in die suide en suidweste waaroor kommer bestaan, is Mbonambi, Ntambanana, Nkandla, eShowe, Kranskop en Melmoth. Die uitslag van toetse uit hierdie gebied sal oor die naweek bevestig word.
Verdere toetse is ook in die distrik Umkhanyakude gedoen. Die eerste besmettings is verlede maand daar gediagnoseer. Die uitslag van toetse in Vryheid, Ladysmith, Port Shepstone, Howick, Ixopo en Durban was negatief.
’n Buffersone
Die gebied tussen die N2 en die R66 is tot buffersone verklaar. Die verkeersowerheid sal padblokkades in die omgewing hou om die verspreiding van die siekte na die westelike dele te probeer voorkom. Dié 25 km breë gebied sal in die Staatskoerant tot beheergebied verklaar word.
Dr. Botlhe Modisane, woordvoerder van die departement, sê die feit dat die grensheining tussen Suid-Afrika en Mosambiek verval het, is nie die hoofrede vir die uitbreking nie. Die siekte word nié deur ’n heining ingeperk nie, maar word omgewingsfaktore versprei.
“Die huidige uitbreking van bek-en-klouseer is glo deur ’n ligter virus veroorsaak. Daarom was die kliniese tekens nie dieselfde as met vorige uitbrekings van tipiese bek-en-klouseer in die land nie.
Die virus kon dus nie geïdentifiseer geword het deur tydige kliniese ondersoeke nie. Dit het die verspreiding van die siekte veroorsaak. Die departement van landbou in KwaZulu-Natal behoort gelukgewens te word dat hy die siekte in dié omstandighede opgemerk het,” sê Modisane.
11 Maart 2011