Die Nasionale Oesskattingkomitee het die verwagte nasionale koringoes in sy vierde en finale skatting bykans onveranderd vanaf die vorige skatting gelaat.
Die verwagte 1,6 miljoen ton, teen ‘n opbrengs van 1,8 ton per ha, is die naas-kleinste oes van die afgelope dekade, en verteenwoordig net bietjie meer as driekwart van die afgelope tien jaar se gemiddelde produksie.
Graan SA verwag dat Suid-Afrika in die 2010/’11-bemarkingsjaar 1,4 miljoen ton se koring sal moet invoer.
Die verwagte Wes-Kaapse oes is 596 250 ton; die Vrystaatse oes is ‘n verwagte 428 400 ton, en die Noord-Kaapse oes ‘n verwagte 260 300 ton, wat 3 800 ton ho?r as die vorige skatting is.
Kleinste in dekade in Vrystaat
Die Vrystaatse oes is die kleinste van die dekade, en meer as die helfte minder as in 2001, toe ver oor die 1 miljoen ton koring in dié provinsie geproduseer is.
Die jongste plaaslike skatting kom te midde van kommer oor droogte en swak re?nvooruitsigte wat koringproduksie in graanproduserende gebiede elders knou, soos in Amerika se harde rooi winterkoring-streke en in Rusland, asook knap graanvoorrade in Rusland en China. Koringboere in die suidooste van Australi? word weer deur re?n gepootjie.
Dié ongunstige produksietoestande het tot dusver verhoed dat koringpryse op die wêreldmarkte so skerp soos mieliepryse die afgelope paar weke geval het, sê mnr. Wessel Lemmer, Graan SA-ekonoom, in sy daaglikse markverslag.
Die plaaslike koringprys het die afgelope jaar goed in navolging van wêreldmarkte gestyg. Die Safex-prys vir lewering in Desember (2010) was teen verlede week 18% ho?r as ‘n jaar gelede.
24 November 2010